Absa KKNK kry nuwe kurator van Visuele Kuns

Sandra Hanekom

Sandra Hanekom, visuele kunstenaar van Piketberg, is aangestel as die nuwe Kurator van Visuele Kuns by die Absa KKNK. 

“Ek voel baie gevlei en opgewonde oor die moontlikhede wat die Absa KKNK aan my as kurator bied. ‘n Feeskurator is ’n kurator vir beide die publiek en kunstenaars, wat dit ’n baie uitdagende posisie maak”, vertel Hanekom. Sy beskou kuns as haar besigheid en erns. “Hierdie is nie net nog ’n projek van my nie, hierdie is dié projek waar ek my reputasie moet behou en ook daaraan moet bou. Kunstefeeste is uiters belangrik vir gevestigde kunstenaars en vir jong, opkomende kunstenaars bied feeste die geleentheid om op ’n nasionale platform uit te stal.” 

Hanekom werk sedert 1994 as ’n kunstenaar en is welbekend met die Absa KKNK. Sy het alreeds twee solo-uitstallings by dié fees gehad met Van verskrikkers en verstommers in 2011 en 1971 in 2005. Haar werke was in 2001 en 2008 deel van groepuitstallings wat by die Absa KKNK te sien was. Hanekom het opgetree as kurator van Mused in 2008 asook van Roem by dié fees in 2007. 

“My doelwitte vir die Absa KKNK 2012 se visuele kuns is om deur werk van hoogstaande gehalte, beide akademies en vanuit ’n versamelaars oogpunt, ’n oorbruggingsprojek te skep wat die kunsleek geïnteresseerd sal maak in kuns van ’n hoë gehalte”, vertel sy. Hanekom wil graag een of twee projekte aanbied wat die verbeelding van Feesgangers sal aangryp en sal maak dat mense dit nie sal wil misloop nie. “Dit is vir my belangrik dat die uitvoerende en visuele kunste nader aan mekaar getrek word.” 

’n Feeskurator moet ’n ander inslag as dié van ’n museumkurator hê”, vertel sy. Volgens haar is daar drie belangrike elemente wat ’n uitstalling moet hê. “Eerstens moet daar ’n opvoedkundige element wees. Tweedens, ’n populêre element, jy wil hê mense moet na die uitstalling kom kyk. Laastens moet die uitstalling ook oor ’n innoverende element beskik.” Hanekom sê dit is haar grootste doelwit om te sorg dat daar ’n goeie balans tussen dié drie elemente is. “Jy moet ’n visuele kunsteprogram saamstel wat moet voorsien in die behoeftes van ’n baie breër gehoor.” 

Haar jongste uitstalling, Sublime Purgatory and the Splendour of Menace, was tot 22 September 2011 by Absa se Kunsgalery in Johannesburg te sien. Haar werk word gekenmerk deur ’n sterk persoonlike narratief en die simboliese elemente in haar werk. Sy het voorheen gedien op die Kunsteraad van die Durbanville Kunsvereniging, die Oos-Londen Kunsvereniging asook die Bellville Kunsvereniging. Sy het Beeldende Kunste aan die Universiteit Stellenbosch studeer nadat sy aan die Afrikaanse Hoërskool vir Kunste, Die Kruin, in Johannesburg, gematrikuleer het. Hier het sy 1988 erkenning as beste Visuele Kunsleerling ontvang. 

Haar voorgangers as Kurator van Visuele Kuns by die Absa KKNK was Johan Myburg, Theo Kleynhans, Lucia Burger, Teresa Lizamore en Clive van den Berg. 

Die Absa KKNK word tussen 31 Maart en 7 April 2012 vir die 18de keer in Oudtshoorn aangebied. Verblyfbesprekings open reeds op 17 Oktober 2011 vir die publiek.

Share Button