Wes-Kaapse regering help volstruisboere

Die Wes-Kaapse regering het tot volstruisboere se redding gekom ná die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye hulle glo versaak het. 

Luidens ’n verklaring het die departement op 26 Augustus bekend gemaak dat hulle boere nie meer gaan vergoed vir volstruise wat weens die H5N2-virus geslag moet word nie. 

Die virus het in April vanjaar in die Klein-Karoo uitgebreek. Sedertdien moes 33 000 voëls al op 33 plase van kant gemaak word. Die voorkoms van die virus kos die bedryf maandeliks sowat R108 miljoen omdat die uitvoer van volstruisvleis  verbied is. Die departement het aanvanklik aangedui dat boere markverwant vir dié volstruise vergoed sou word. 

Die departement het sowat R33 miljoen uitbetaal, maar het verlede week aangedui dat ’n agterstand van R17 miljoen bestaan en verdere geld nie uitbetaal sal word nie. Baie boere het toe reeds diere van kant gemaak op die voorwaarde dat hul vergoed sal word. 

Vinnige optrede

Mnr. Gerrit van Rensburg, die Wes-Kaapse minister van landbou en landelike ontwikkeling, het Donderdag (1 September 2011) trots aangekondig dat ’n krisis afgeweer is weens die flinke optrede van verskeie betrokkenes. 

Die Wes-Kaapse Regering se komitee vir ekonomiese en infrastruktuurstrategie asook die begrotingsbeleidskomitee het die afgelope week krisisvergaderings gehou en aanbeveel dat die bedrag vanuit provinsiale fondse beskikbaar gestel moet word. Die Kabinet het die besluit Woensdag (31 Augustus 2011) goedgekeur. 

Oorwegings

Mnr. Alan Winde, die Wes-Kaapse minister van finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, sê die besluit is daarop gegrond dat die bedryf jaarliks sowat R1 miljard tot die provinsie se ekonomie bydra. Dit verskaf ook sowat 55 000 werksgeleenthede in die provinsie. 

“Die besluit is nie ligtelik geneem nie, maar eerder met die deeglike oorweging van die oorsake van die probleem, die waarde van die bedryf vir ons ekonomie en die kort- en langtermyngevolge as ons nie optree nie. Op ons beurt het ons die bedryf gevra om ’n plan saam te stel om dieselfde tipe uitbrekings in die toekoms te beperk,” aldus Winde.

Share Button