Groot terugslag vir volstruisbedryf

Dit is ’n donker lentedag vir die volstruisbedryf deurdat die H5N2-virus sy greep op die Klein-Karoo se volstruisbedryf versterk het. 

Luidens ’n berig in Die Burger (1 September 2011) sê mnr. Anton Kruger, die uitvoerende hoof van die Volstruisbesigheidskamer (VBK) die virus is op nóg ’n plaas, Volmoed, in die distrik gevind. 

Dié ontdekking bring die aantal volstuise wat tot dusver weens die siekte geslag is, op 33 000 te staan. 

“Die volstruise het op 33 plase in die Klein-Karoo-vallei voorgekom. Dit beteken volstruise mag steeds nie verskuif word nie. Net eiers en pasgebore volstruiskuikens mag met ’n spesiale Rooi Kruis-permit vervoer word,” vertel Kruger. 

Hy sê die enigste volwasse volstruise wat tans geskuif mag word, is dié van boere wat ’n afspraak het om volstruise vir binnelandse verbruik by die volstruisslagplaas op Oudtshoorn te laat slag. 

Aansoek aan EU vertraag

Luidens die berig sal die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op 8 September ’n aansoek om hersonering van gebiede buite die Klein-Karoo vir die slag van volstruise vir die uitvoermark aan die Europese Unie (EU) voorlê. Die Wes-Kaapse departement het bevestig dat dit in Brussel, België, sal plaasvind. 

Kruger sê intussen: “Die 10 km-kwarantyngebied wat volgens die EU se internasionale gesondheidsregulasies ten opsigte van die besmette plaas van krag was, is weer opgehef.” 

Weens dié rede sal die sonering nie vir die Klein-Karoo geld nie. Dié gebied sal eers ’n aansoek aan die EU mag voorlê wanneer die gebied vir drie maande lank negatiewe toetse oplewer. 

Die plaas naby Heidelberg wat vroeër positief vir voorkoms van die virus getoets het, se jongste toetse was egter skoon. 

Bron: Die Burger

Share Button