ONDERWYS EN DIE ALCOHOL AND DRUG CONCERN-GROEP SPAN SAAM MET SLYPSTEEN EN SOLO OM DIE GEVARE VAN SUBSTANSMISBRUIK AAN TE SPREEK
Die toenemende druk wat jongmense daagliks ondervind, is gedurende die week van 12 Oktober op ‘n besonderse manier aangespreek toe Substansmisbruik-seminare in die Klein Karoo vanaf Ladismith tot Haarlem in samewerking met die Alcohol and Drug Concern-groep van Kaapstad aangespreek is.

Meer as 4 000 leerders van Ladismith, Calitzdorp, Oudtshoorn, Dysselsdorp, De Rust, Uniondale en Haarlem, is die geleentheid gegun om met mense wat self die pad van dwelmmisbruik, gevangenisstraf en herstel gestap het, te ontmoet.

Ellen Pakkies se verhaal wat in die drama, My naam is Ellen Pakkies, tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn te sien was, het eerstehands haar lewe van toe tot nou aan die jongmense kon oordra.

Elkeen van die 7 spanlede se deernisvolle verhaal het na gesprekvoering met van die leerders na afloop van die seminare, ‘n diep indruk op hul gelaat.

Daar word beplan om volgende jaar die projek op nog ‘n groter skaal aan te pak.
Tydens die onderhoude het Donay McGear, bestuurder van FNB op Oudtshoorn, sy tevredenheid met die verloop van die gebeure die afgelope week uitgespreek: “Ek dink dit is so nodig dat ons jongmense bewus is van die euwels wat hulle lewens kan verwoes. Die bewusmaking van simptome van dwelmmisbruik, kan die onderwysers help om moontlike gevalle te identifiseer. Dit was goed vir die kinders om te sien wat dwelms aan hulle organe kan doen en ook die nagevolge wat dit op hulle lewe kan hê. Ek dink die bewusmakingsveldtog is ‘n baie goeie idee, en julle moet uitreik ook na ander skole in ons streek”.

Intussen het Hans Oosthuizen, voorsitter van Slypsteen Development Centre wat as nie-winsgewende maatskappy uit Oudtshoorn bedryf word en ook die hoofborg van die aksie was, aangekondig dat hul wel hierdie inisiatief saam met Onderwys, die Alcohol and Drug Concern-groep en SOLO Outdoor Experiences sal voortsit.

Slypsteen, wat reeds ‘n pad stap om uitdagings en ontwikkeling in die gemeenskap aan te spreek, het reeds internasionale bande met die talkUBUNTU-stigting in Nederland sodat ontwikkeling op verskeie vlakke uitgebrei kan word. Inligting ten opsigte van die week se gebeure is reeds op hul internasionale platvorm geplaas.

“Sterk bande is die afgelope week gesmee,” het hy by navraag verklaar. “Met SOLO as ‘n groep jongmense wat reeds oor die ervaring van die aanbieding van substansmisbruik- en positiewe rolmodelwerkswinkel beskik, kan hulle as portuurgroep makliker die vrese, frustrasies en drome van ons jongmense aanspreek. Saam met Eddie en sy span en die betrokkenheid van ons eie gemeenskappe kan ons saam met Onderwys ‘n verskil in ons almal se lewe maak.”

Volgens Pastoor Eddie Hendricks het die gesindheid en erns van die jongmense en leerders hom ook aangegryp. “Ons beplan om saam met die jong SOLOspan en Slypsteen ‘n werklike verskil in ons land se toekoms te bring,” het hy gesê.
“Te lank het ons jongmense uit frustrasie ons vergryp aan die verkeerde dinge in die lewe,” het Trevor Stal, hooffasiliteerder van SOLO, tydens die video-onderhoude genoem: “Waar is ons rolmodelle en die mense wat so praat van jeugontwikkeling? Ons moet self in ons eie toekoms ingryp deur positiewe rolmodelle daar te stel wat ons kan navolg.”
Hy’t ook die vertroue uitgespreek dat die Eden Distriksmunisipaliteit ook tafel toe sal kom om te deel in die ontwikkeling van die opkomende geslag in die streek.
Hy’t ook verwys na hul embleem wat die witkruisarend is wat in die Kangovallei voorkom vanwaar hulle oor baie jare reeds vanaf De Hoek Bergoord ‘n verskil in duisende jongmense se lewens gemaak het. “Die witkruisarend dra ook ‘n kruis soos ons almal. Maar as die stormwind waai, vlieg ons hoog. As jong arende kan ons ons vlerke sprei om die boodskap van bevryding van sosiale probleme, armoede en dwelmmisbruik, saam met ander belanghebbendes selfs buite die grense van ons land te dra,” het hy gesê.
Vir Ellen Pakkies, die vrou wat deur diep waters gegaan het en geen bekendstelling nodig het nie, was die week ‘n belewenis: “Saam met die wat met ons wil stap, gaan ons ‘n verskil maak,” was haar afskeidswoorde. “Dis ons plig om ons jonger geslag op die pad te help verby die hindernisse wat ons lewens amper verwoes het. Ons is dankbaar vir die geleentheid om so baie jongmense die week me kontak te maak.”
Werk insette van ander rolspelers by: Bedank alle rolspelers wat bydraes gemaak het om hierdie week so suksesvol te laat verloop; Queens Hotel, Die Oude Meul, Oudtshoorn Grassnyer, Piet Otto en skole se vrywillige bydraes.
Persone of instansies wat graag deel wil word van hierdie inisiatief, kan vir Hans Oosthuizen by info@slypsteen.co.za of by 082 8555 851 kontak.








