Langenhoven Gimnasium van Oudtshoorn het die afgelope naweek skoonskip in die SWD Krieketraad se skole superliga kompetisie gemaak deurdat hul beide die o/15 -en o/19 titels ingepalm het.

In die o/19 finaal waar hulle op hul tuisveld teen Oakdale kragte gemeet het, het Gimnasium ‘n spannende kragmeting met 1 paaltjie gewen danksy ‘n puik kapteinsbeurt deur die talentvolle Jean Heunis (94; 109 balle, 1×6, 11×4). Oakdale, wat eerste gekolf het, is vir 175 lopies uitgeboul met Maurice White (37), Robert Bosch (21) en Vogan Talmaggies (23) hul beste kolwers. Arno Meyer (5/35) het vir die wenspan met die bal uitgeblink.
Gimnasium was danksy Heunis se skitter beurt met hul telling op 166/4 stewig in die saal maar met sy vertrek het Oakdale bloed geruik en byna vir ‘n groot opskuddig gesorg toe hul 5 paaltjies vir slegs 6 lopies geneem het. Meyer (21) en Grant Esau (21) het ook vir goeie bydraes met die kolf gesorg terwyl Bosch (3/49), Jaco Janse van Rensburg (2/46) en Henry van Zyl (2/25) Oakdale se beste boulers was. Langenhoven het die wenteiken (175/9) in die 44ste boulbeurt behaal.
- Gimnasium (164 almal uit) het ook die o/15 titel ingepalm toe hulle Hoërskool Outeniqua (81 almal uit) oortuigend met 83 lopies in die finaal geklop het. Niel Els (29) was die wenspan se beste kolwer terwyl Jean Bruiners (3/19), Francois Barnard (2/16) en PJ Sauls (2/18) hul bouluitblinkers was.







