Die Absa KKNK is op soek na ’n visuele kunskurator om op vryskut-basis die fees se kunsuitstallings vir ’n drie-jaar termyn vanaf 2015 saam te stel. Hierdie kuratorskap word drie-jaarliks afgewissel om vir voortdurende vernuwing in die aanbod te sorg. Die huidige kurator, Sandra Hanekom, wat oor die afgelope jare visuele kunstenaars van internasionale statuur se werke na die fees gebring het, se termyn verstryk ná afloop van die 2014-fees.
’n Grondige kennis van die Suid-Afrikaanse en internasionale visuele kunsbedryf en veral kontemporêre kunstenaars in die land, is ’n vereiste vir die betrekking.
Theo Kemp, die Absa KKNK-programbestuurder, sê die suksesvolle kandidaat moet ook oor die vermoë beskik om verteenwoordigende uitstallings saam te stel met gevestigde, sowel as opkomende kunstenaars. “Die kurator moet die fees en feesgangers deur-en-deur ken, ’n aanvoeling hê vir die publiek, kunstenaars en die kunste-landskap, en boonop oor ’n vernuftige sakesin beskik,” sê Kemp.
Hanekom sê die rol as feeskurator is baie uitdagend, maar ook vervullend. “’n Fees bied aan jou die vryheid wat jy dalk andersins nie in museums of galerye kry nie. Dit is ook ’n groot voorreg om te help bou aan kunstenaars se reputasie en hul uitstallingsgeskiedenis.”
Die aangewese kurator sal reeds tydens Absa KKNK 2014 nou met Hanekom saamwerk om sodoende ’n oorgang na die fees in 2015 te bewerkstellig. Belangstellendes moet teen 4 November ’n kort CV en motiveringsbrief na Theo Kemp by tkemp@kknk.co.za stuur.








