Matie se teks verder ontwikkel

logoAlma Nel, ’n honneursstudent aan die Universiteit van Stellenbosch se drama-department, se dramateks, Vat aan my, is pas deur die Absa KKNK aangewys as die tweede voorstel wat deur dié fees se teksontwikkelingsprojek, ondersteun deur die Dagbreek Trust, ontwikkel sal word. Hierdie projek is in die lewe geroep om stem te gee aan nuwe Afrikaanse dramaturge. Die skrywer-joernalis, Willemien Brümmer, se teks, Braai, is verlede jaar gekies om ontwikkel te word en sal by die twintigste Absa KKNK, onder die regie van Lara Bye, debuteer.

Vanjaar se beoordelaars – waaronder Margot Luyt, Nicola Hanekom en Christiaan Olwagen – is dit eens dat Nel se teks opwindende ontwikkelingspotensiaal inhou. Olwagen beskryf Nel se voorstel, wat die angst en misplaasdheid van die twintiger-plusser generasie op onthutsende wyses ondersoek, as “onpretensieus en vreesloos”. Hy bestempel haar verder as ’n opwindende, kontemporêre vrouestem wie se eindproduk vir snykant-teater sal sorg.

Theo Kemp, die Absa KKNK se programbestuurder, sê die waarde van die projek lê daarin dat die nuwe dramaturge die geleentheid gebied word om hul skryfwerk te kan ontwikkel onder die mentorskap van ’n span ervare dramaturge en regisseurs. Sodoende word daar nie net in die teks belê waarby die Absa KKNK sal baat nie, maar in die talent van ’n belowende dramaturg. Dit is in die belang van die Afrikaanse teater se voortbestaan dat die werk van nuwe skrywers broodnodig is.

Nel, wat in Betlehem in die Vrystaat gebore is, sê op haar beurt dis ’n wonderlike voorreg dat sy gekies is en sien daarna uit om haar werk te ontwikkel vir die Absa KKNK. “Ek is aan die begin van my loopbaan en my droom was nog altyd om saam met toneelspel ook tekste te skryf en te ontwikkel en hierdie is vir my ’n eens in ’n leeftyd geleentheid om my storie te vertel,” sê sy.

Haar liefde vir die teater kry sy by haar ma wat ’n drama-dosent by die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie is en ook vir jare ’n teater in die Vrystaat besit het.

Share Button