Grammy-benoemde pianis tydens Klassique op Oudtshoorn

petronellDie Grammy-benoemde Suid-Afrikaanse pianis, Petronel Malan, kom vanjaar vir die eerste keer sedert 2006 Oudtshoorn toe om by die vyfde Klein Karoo Klassique op te tree.

Malan woon en werk deesdae in Amerika, maar kan nie wag om weer haar voete in die Klein Karoo te sit en volstruisvleis te eet nie. “Ek onthou my vinnige besoek aan Oudtshoorn in 2006 vir die Absa KKNK baie goed en hoe ek ‘n spul volstruisprodukte gekoop het, wat ek vandag nog gebruik. Wens net ek het meer tyd gehad om langer rond te kuier, want ek is vreeslik lief vir volstruisvleis, maar sukkel om dit in die VSA te kry,” sê sy uit Amerika.

Vir Malan, wat wêreldwyd op groot klassieke musiek-verhoë optree, is kunstefeeste steeds spesiaal. “Wanneer ek feeste besoek kan ek binne drie dae vyf konserte inpas, leef, eet en musiek inasem.  Ek geniet dit geweldig baie. Enige plek waar klassieke musiek die fokuspunt is, is wonderlik. Daar is soveel mense wat tog nog baie lief is vir klassieke musiek en ver sal reis om die konserte te hoor.”

Sy slaan Suid-Afrikaanse musici baie hoog aan. “Ek dink nie mense het meer nodig om hierdie vraag te vra nie. Suid-Afrika is lankal nie meer die afgesonderde swartskaap aan die onderpunt van die wêreld nie. Johan Botha, Pretty Yende, Musa Ngqungwana sing in die voorste operahuise en Suid-Afrikaanse pianis Pierre van der Westhuizen is aan die helm van die wêreldberoemde Cleveland Klavier Kompetisie. Suid-Afrikaners hoef vir niemand terug te staan nie,” sê sy.

Malan is op 10 Augustus om 15:00 by die St Salvador Katedraal te sien. Haar solo-uitvoering sluit werke van Rachmaninoff en Liszt in en soos altyd beloof haar ingebore musikaliteit en moeitelose tegniek om vir ’n onvergeetlike ervaring te sorg.

Kaartjies vir die uitvoering is R100 en die uitvoering duur 60 minute. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en Shoprite/Checkers. Die volledige program is op die webblad by www.klassique.co.za beskikbaar.

Share Button