Sowat 90 000 ton se appels is onlangs gedurende ’n erge haelstorm in die Langkloof beskadig.
’n Erge haelstrom het deur ’n 20km-strook van die Langkloof beweeg en appels wat nog gepluk moes word, beskadig. Die meeste boere het reeds sowat 70% van hulle oeste gepluk, maar die oorblywende appels is in verskeie gevalle erg beskadig. Veral die Haarlem- en Misgund-omgewings het erg deurgeloop.
Mnr. Marius van der Westhuizen, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, sê sowat 90 000 ton se appels is beskadig, en jong bome is ook beskadig of het gebreek. “In die Haarlem-omgewing is tussen 30 000 en 35 000 kratte se appels beskadig.”
Mnr. Andre de Wit, voormalige voorsitter van die verenging, het sowat 4000 kratte se appels verloor. “Bome het afgebreek of is ontwortel, ruite is gebreek en van my werkers se huise se dakke het afgewaai.” Die storm het oor die Paasnaweek voorgekom.
Uitstekende oes, verliese gely
Volgens Van der Westhuizen het die vallei vanjaar uitstekende oeste, met hoë-gehalte vrugte wat goeie pryse behaal. Hy sê hoewel boere nie hulle totale oes verloor het nie, die verliese wel druk op hulle winsgewendheid gaan plaas.
“Dis uitvoergehalte vrugte wat beskadig is,” vertel hy. “Die beskadigde vrugte kan nou nie meer, terwyl die rand gunstig is vir uitvoere, na die uitvoermark gestuur word nie. Goeie pryse word ook behaal weens ’n hoë vraag na appels, omdat die mark in Europa min oordrag vrugte van hulle plaaslike oeste het.”
Die vrugte is nou net geskik om sap van te maak, en Van der Westhuizen sê daarvoor word boere baie minder vergoed. “En dit kom terwyl alle moontlike kostes, soos lone, aansienlik gestyg het.”
Die vallei verwag wel ’n koue, nat winter wat volgende jaar moontlik weer ’n goeie oes tot gevolg kan hê.







