Hermanus se matriek-verlies is Plet-wins

Sekere ondernemings se sukses word deur die sogenaamde voete bepaal. Hermanus het ’n kwaai baadjie aangetrek, die jong voete op vlug laat slaan… en Plettenbergbaai lag heelpad bank toe.

Ure lank is gesit in rye motors, wat terug by Hawston verby gestaan het, terwyl die polisie in padversperrings die motors van matrikulant-besoekers aan Hermanus deursoek het.

Die jongelinge se geesdrif is gedurig gedemp, hul vriendelike vure op die strand is geblus, die slapendes in Piet se Bos is verwilder, en die inwoners het gekla oor elke sigaretstompie en kondoom op hul pad.

Die groot toeloop moes net vindingryk bestuur word. Hermanus se stadsvaders kon, met ’n skrale R5 miljoen-begroting, ’n potensiële R30 miljoen-verdienste bewerkstellig het.

Hulle kon die toegangsroetes na die dorp met meer sigbare polisiëring beveilig het, met skrywes in die Hermanus Times die inwoners versoek het om die jongelinge vriendelik te ontvang en te verduur, self saans reuse-vure op Grotto- en Voëlklipstrand aangesteek het en strandwagters deur die nag ’n ogie laat hou het.

Voorts kon die moeder van alle partytjies gehou gewees het deur gebruik te maak van, onder andere, die talentvolle kunstenaars van Bellville, daar waar rock ’n’ roll deesdae herleef.

Plettenbergbaai het uit die situasie munt geslaan. Die inwoners ontvang die jeugdiges in liefde, en sekerheidsfirmas sien om na die jongspan se welsyn. Hulle hou voorts ’n reusagtige “Rage”, waar hulle, ironies genoeg, van ons buurman Jack, hier van Parow, gebruik maak. A nee a, dis ons boy-tjie daai!

“Ou Nico, hoe was die afgelope naweek op Hermanus?” “Teen halftien was die eetplekke leeg, die strate verlate en die ouetehuis se ligte af.”

Viva Plet, viva!

Reinhold Swart

Bellville

Share Button