Die koning onder 200 drawwers wat vandag die gedugte Otterwandelpad in ’n paar uur gaan kafdraf, word later gekroon.
Die Otter African Trail Run word vanjaar vir die derde keer op die gewilde wandelroete van 42?km in die Tsitsikamma-gebied van die Tuinroete Nasionale Park gehou.
Sondag vind die Otter African Ramble oor dieselfde roete plaas. Slegs 200 deelnemers word by elke nommer toegelaat. Die afsnytyd vir vandag se resies is agt uur en vir die Otter African Ramble 11 uur.
Die roete is vir die duur van die byeenkoms gesluit.
Mnr. Mark Collins, organiseerder van die veldloop, het gister aan Die Burger gesê die geleentheid is besig om in gewildheid toe te neem.
In dié stadium word die eerste 400 deelnemers toegelaat en die wat daarna kom, se naam verskyn op ’n waglys.
“Die veldloop is ’n ander manier om die Otter te beleef.”
Oor kommer dat die atlete ’n negatiewe impak op die ekologie sal hê, het hy gesê dit is minder as die impak van voetslaners.
Die reëls vir veldloopatlete is ook anders as marathons.
“Enige atleet in die veldloop wat selfs net ’n stukkie papier laat val, word gediskwalifiseer.”
Geen helpers word op die roete toegelaat nie. Deelnemers moet ook hul eie water en kos saamdra. Hulle moet verskeie riviere oorsteek.
Die land se top-veldloopatlete gaan deelneem. Dit is ’n sport wat wêreldwyd besig is om te groei, ook in Suid-Afrika.
Ryan Sandes, wat die enigste atleet is wat dit kon regkry om al vier ultramarathons in die bekende 4Desert-reeks te wen, is een van die gunstelinge om die Otter African Trail Run te wen.
“Dit is die eerste keer dat ek dit hardloop en ek is baie opgewonde. Ek hoor die roete is moeilik. Dit is vir my ’n sielkundige en fisieke uitdaging.” Oor ’n moontlik tyd het hy gesê enigiets onder vyf uur sal hom gelukkig maak.
Verlede jaar is nuwe rekord in die mans- en vroueafdeling opgestel toe Andre Gie die roete in 4 uur 48 minute 43 sekondes voltooi het en Jennie “die Bom” Bomford in 5 uur 17 minute 12 sekondes.
Beamptes van die Tuinroete Nasionale Park sal die omgewingsimpak op die roete streng monitor, het mnr. Zanemvula Gozongo, Sanparke-woordvoerder, gesê.
Die veldloop word deur Hi-Tec gesteun.
Die Burger








