AfriForum se teenboelieveldtogspan en hul gelukbringer Matteus het 17 laer- en hoërskole in Oudtshoorn en Calitzdorp besoek van 19 tot 22 Augustus. ’n Boodskap ter bewusmaking van boeliegedrag en selfdood is aan meer as 5 600 leerders oorgedra. Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het ook die onderwysers op 20 Augustus toegespreek.
AfriForum het Laerskool Wesbank, Laerskool Laurus, Excelsior Primêr, Calitzdorp Laerskool, Gamka-Oos Primêr, Aurial Kollege, Hoërskool Calitzdorp, Excelsior Primêr, Hoërskool Oudtshoorn, De Rust Primêr, St. Konrad Primêr, P.J. Badenhorst Primêr, Dysselsdorp Primêr, Môrester Sekondêr, Protea Hoërskool, Dysselsdorp Sekondêr en De Rust Sekondêr besoek.
“Ons kinders word toenemend blootgestel aan verskillende tipes boeliegedrag op ’n al hoe jonger ouderdom. Ons as volwassenes het ’n verantwoordelikheid om kinders in te lig en te bemagtig op elke moontlike manier wat ons kan. Kinders leer waardes aan deur die programme en leer ook hoe om hulself te beskerm teen boelies en waar om hulp te kry,” sê Wilma Espach, maatskaplike werker van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).
AfriForum se boodskap, geïnspireer deur die konsep van die “volle wapenrusting van God”, het diep by die leerders inslag gevind. Dié burgerregteorganisasie bemagtig reeds vir sewe jaar leerders landwyd met sy teenboelieveldtog.
“Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel. Deur jong boompies te buig, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe,” sê Leandie Bräsler, gemeenskapsforumkoördineerder by AfriForum.
“Soos Matteus vir die kinders verduidelik het, vind boeliery herhaaldelik plaas en as dit nie gestop word nie kan dit kinders se geestelike gesondheid vernietig. Daarom is dit uiters belangrik om kinders van jongs af te bemagtig met die kennis en vermoë om ’n boelie in sy spore te stuit,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
Navorsing toon dat kinders wat aanhoudend geboelie word, ’n aansienlik hoër risiko het om selfdood te oorweeg of te pleeg. ’n Studie wat deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad gedoen is, het bevind dat ongeveer 20% van Suid-Afrikaanse leerders geboelie word en dat hierdie kinders se kans op selfdood tot drie keer hoër is as dié van ander leerders. Hierdie statistiek beklemtoon die ernstige impak wat boeliegedrag op kinders se geestesgesondheid kan hê en die noodsaaklikheid van vroeë intervensie en ondersteuning.
Die hoërskoolleerders het ook die film Die Val gekyk wat bewusmaking skep oor boeliegedrag en selfdood.
“Die Val raak van die belangrikste kwessies aan waarmee tieners gekonfronteer word. Boelie, hetsy fisies, seksueel of deur middel van sosiale media, bly van die grootste uitdagings waarmee ons leerders gekonfronteer word. Die film beeld die emosionele impak van boelie baie goed uit en leerders kan daarmee identifiseer,” meen Marisa Lindeque, maatskaplike werker van die WKOD. Hierdie film is gratis op AfriForumTV beskikbaar.
Vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.
Leandie Bräsler
Gemeenskapsforumkoördineerder
AfriForum
Sel: 066 420 8037