Die Uitvoerende Burgemeester van George, Rdh Jackie von Brandis en haar burgemeesterskomitee het verlede week ‘n uitreiking na Haarlem gehou, waar baie navrae van die gemeenskap te make gehad het met finansiële aangeleenthede en veral met betrekking tot deernisgevalle en kredietbeheer.
Ongeveer 175 tot 200 mense van die Haarlem-gemeenskap en die landelike areas van Wyk 24 het aan die uitreikingsessie deelgeneem. Gedurende die sessie het lede van die gemeenskap navrae rakende stormwater, strate en behuising aangemeld.
Die burgemeester en rdl. Jean Safers, Burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, het die Informele Nedersetting in Proteaville Haarlem besoek. Inwoners het ook hul ontevredenheid oor dienste soos elektrisiteit en toiletgeriewe gelig. Volgens Duppie du Preez, Bestuurder: Uniondale en Haarlem gebiede, val die elektrisiteit onder Eskom in die gebied en daar is ‘n behoefte aan genommerde huise en erwe, wat volgens plan nog in hierdie week of volgende week deur stadbeplanning aangespreek sal word. Met betrekking tot rioolprobleme, sal rdl Safers ‘n model vir sanitasie geriewe ondersoek wat tans in Thembalethu gebruik word.
Op die foto is die Uitvoerende Burgemeester, vergesel deur wyksraadslid Justin Fry (Wyksraadslid vir Wyk 25, Haarlem) en Rdl. Browen Johnson, Burgemeesterskomiteelid vir Siviele Dienste na ‘n inwoner se huis, Evelyn Thysse. Thysse het ‘n probleem met die stormwaterpype op die foto wat dikwels oorstromings op haar eiendom veroorsaak. Die burgemeester het na Thysse se huis gegaan om eerstehands te sien waarvan sy praat en die betrokke raadslede gevra om saam te kom sodat ‘n oplossing bespreek kan word. Deon de Jager, Adjunk-Direkteur van Siviele Dienste was ook deel van die afvaardiging en om aanbevelings te maak.