Die gons gee pas aan in Brandhouse Liga

Ondanks uitdagende speeltoestande as gevolg van die oggend se swaar, maar welkome rëen in die Suid Kaap, het die derde rondte van die Brandhouse Rolballiga by die Outeniqua Rolbalklub verskeie spannende tweestryde van hoogstaande gehalte opgelewer.

Dit is die onoorwonne “Goons” wat eerste beindruk het met ‘n pragoorwinning van 12-9 teen Kirsten en Tulleken Vervoer. Met hierdie oorwinning het hulle nie net welverdiend na die eerste plek (35 wedstrydpunte) opgeskuif nie, maar ook vir Kirsten en Tulleken ‘n gevoelige slag toegedien. Dit was laasgenoemde se eerste nederlaag in die kompetisie en in die proses het hulle na die vyfde algehele plek teruggesak. 

Nog twee onoorwonne spanne is onderskeidelik tweede en derde geplaas. M Sec Sekuriteit  se oorwinning van 13-6 teen LI’Cas&Wyn het sy puntetotaal na 34 opgestoot en is op een punt na tweede geplaas, terwyl Goussard Prokureurs op 33 wedstrydpunte hulself in die derde plek bevind. Laasgenoemde was met 15-11 net te goed vir Aces High, wat na die sewende posisie teruggesak het. Drie spanne, naamlik die Vintage Rollers, Kirsten en Tulleken, asook die borgspan van Brandhouse het tans 30 wedstrydpunte, slegs vyf punte agter die Goons. Enigeen van hierdie spanne kan nog die Brandhouse titel buit en het met goeie spel ‘n waarskuwing aan die top spanne gerig.

Assupol, die Pancakes en Prostar het almal hul eerste oorwinnings in die liga behaal. Assupol het vir Aurecon met 14-7 verslaan, terwyl die Pancakes in ‘n goed gebalanseerde stryd met 15-12 te goed vir die Bosnimfies was. Prostar het op sy beurt gemaklik met 17-6 teen Secunda Sales gesëevier.

Donderdagaand word uitgesien na veral die stryd tussen die twee topspanne wanneer Die Goons vir MSec Sekuriteit die stryd aansê. Goussards kom teen die Vintage Rollers te staan en Aces High, as eerste inskrywing tot die liga, sal poog om sy posisie te versterk wanneer hulle teen die Bellas te staan kom.

Die voorlaaste, sowel as finale rondtes van hierdie liga vind  onderskeidelik volgende week op Dinsdag en Donderdag by die Outeniqua Rolbalklub in Airway Road, Heatherpark plaas. Spel begin 18h00.

Share Button