Kind sterf ná lorrie hom sleep

Michelle Pienaar 

George – ’n Vyfjarige seun van George is dood nadat ’n verbygaande vragmotor hom voor sy ouerhuis aan sy klere gehaak en hom sowat 100m ver gesleep het. 

Josh-Ryan Meyer het Vrydag omstreeks 18:15 saam met sy twee niggies, Carmenita Louw (6) en Kaychia “Sussie” Stalmeester (10), asook die buurmeisie Anastia Oktober (15) voor hul huis in Borchards met ’n bal gespeel.

 Volgens Sussie het die bal straat se kant toe gerol en Josh-Ryan het agterna gehardloop. Hy het blykbaar op die sypaadjie gestaan toe ’n aankomende vragmotor voor die huis verbygery en hom aan sy klere gehaak het. Hy is sowat 100m ver twee huise verder gesleep voordat die vragmotor tot stilstand gekom het. 

’n ER24-paramedikus wat kort daarna op die toneel was, het bevestig Josh is aan veelvuldige kopwonde dood. Hy was reeds dood toe die nooddienste opgedaag het. 

Sussie het gister aan Die Burger vertel die vragmotor het baie vinnig gery. 

“Hy het die een oomblik nog op die sypaadjie gestaan en die volgende oomblik het die vragmotor hom gehaak. Hy het na my geroep: ‘Sussie help my’.” 

Sy het huis toe gehardloop en haar ouma, me. Lena Stalmeester, geroep. 

“Ek het ’n slag voor ons huis gehoor en net gebid dat dit nie een van ons kinders is nie,” het Stalmeester gesê. Toe sy by Josh-Ryan kom waar hy gelê het, was daar bloed aan sy mond en sy oë was nog oop. “Ek het met my hande oor sy bors gevryf, hy het nog geleef.” 

Sy ma, me. Sophie Meyer, het kort daarna aangekom en sy hand vasgehou. Volgens die kinders het hy nog vir haar “my ma” gesê, kort voor hy gesterf het. Meyer was nie gister vir kommentaar beskikbaar nie.

Die vragmotorbestuurder het volgens die familie verduidelik dat hy nie die kind raakgesien het nie. Hy was glo onder die indruk dat hy ’n hondjie raakgery het. 

Kapt. Bernadine Steyn, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gister bevestig ’n saak van strafbare manslag is geopen. Die saak word ondersoek en niemand is in hegtenis geneem nie. 

Me. Frieda Meyer, Josh-Ryan se tannie, onthou hom as ’n baie hulpvaardige kind wat nog die oggend voor sy dood skottelgoed gewas het. 

Sy ouma, me. Lidia Meyer, het hom “’n liewe, gehoorsame kind” genoem. Hy sou volgende jaar as graadeentjie by die Primêre Skool Hybernia begin. 

– Die Burger

Share Button