Kwaggas wen Pro20 titel

Hoërskool Outeniqua van George is die seisoen die Standard Bank Pro20 Skole kampioen in die SWD. Die Kwaggas het die titel Maandag verower toe hulle die Hoërskool Oudtshoorn in die finaal wat op die REC plaasgevind het met 5 paaltjies geklop het.

Johandre Barnard (middel), die kaptein van Outeniqua ontvang die prysgeld van R20,000 en die trofee as die Standard Bank Pro20 kampioene van die SWD van Jonathan Carelse (Voorsitter van SWD Skole krieket) en Lietha Viviers van Standard Bank. Ook teenwoordig op die foto is Johan Weyers (Bestuurder Amateurkrieket en Afrigting SWD Krieket), Andre Swart (Standard Bank) en Francois Visagie (SWD Skole krieket).

Oudtshoorn, wat eerste gekolf het, het danksy ‘n prag beurt deur Jaco van Greunen (52; 41 balle; 1×6, 2×4) 115/4 in hul toegelate 20 boulbeurte behaal. Kurtley Kannemeyer (2/26) was Outeniqua se beste bouler.

Outeniqua se aanslag is gelei deur die SWD 0/17 kolwer, Du Toit Hills, wat met ‘n skitterende aanvallende beurt van 58 (39 balle; 2×6, 5×4) die Kwaggas instaat gestel het om die wenteiken (118/5) te behaal met die tweede bal van die 18de boulbeurt. Oudtshoorn se boulers het die span erg in die steek gelaat met onnodige foutballe.

Outeniqua speel volgende week saam met die provinsiale wenners van Kei, Grens en die Oostelike Provinsie in ‘n uitklopreeks om te bepaal wie die Warriors in die Krieket Suid-Afrika finale rondte in Stellenbosch gaan verteenwoordig.

Die Hoërskool Outeniqua wat die Standard Bank Pro 20 kompetisie van die SWD gewen het is: Agter: Dean Muller, Johandré Barnard (kaptein), Du Toit Hills, Ricus Cronjé, Herman Haupt, Johandré Barnard, Cornel April, Lorenzo Rhoode en Prieur du Plessis (afrigter). Middel: Kurtley Kannemeyer. Voor: Eaton Coeries, Eldin Daniels, Marcello Piedt en Lerique du Plessis
Share Button

Leave a Reply