George verpleegster veilig ná uur lange gyseldrama

George – ’n Uur lange gyseldrama het gisteraand by die George-hospitaal ontvou toe ’n 24-jarige man van Conville hom saam met ’n verpleegster in ’n vertrek toegesluit en haar met ’n mes gedreig het.

Volgens kapt. Bernadine Steyn, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die man omstreeks 17:30 by die hospitaal se ongevalle-afdeling ingestorm, oor ’n toonbank gespring en hom in die apteek agter die toonbank toegesluit.

Die verpleegster was vermoedelik in die apteek, ’n vertrek van slegs ’n paar vierkante meter groot, toe die man daar ingestorm en haar met ’n mes gedreig het.

Volgens dr. Martin Viljoen, bestuurder van mediese dienste by die hospitaal, was die man moontlik onder die invloed van ’n dwelmmiddel.

“Hy het laat blyk hy dink iemand is agter hom aan, en het glo gevra dat iemand die polisie ontbied,” het Viljoen vertel. “Hy het blykbaar aan die verpleegster gesê hy gaan haar nie seermaak nie.”

Polisielede was gou op die toneel en het in die ongevalle-eenheid byeengekom om met die man te probeer onderhandel. Terwyl hulle daarmee besig was, het pasiënte in die ingangsportaal saamgedrom om te kyk wat binne aangaan.

’n Paarhet selfs voorstelle gemaak oor hoe die situasie ontlont kan word, van ’n moontlike skietgeveg tot ’n oproep na die man se familie om hulle as bemiddelaars te betrek.

Intussen het ’n polisiebeampte, wat nie ’n uniform aangehad het nie, met die man probeer onderhandel, en hom deurentyd versoek om sy mes te oorhandig.

Aangesien die enigste ingang na die vertrek met ’n magnetiese toestel gesluit was, moes die kragtoevoer afgesny word om die deur oop te sluit. Toe die man ná ongeveer ’n uur uiteindelik sy mes oorhandig, het polisielede onmiddellik ingestorm, die man geboei en hom in ’n vangwa ingehelp.

Die verpleegster het gisteraand berading ontvang.

– Die Burger

Share Button

Leave a Reply