MY OOM SE VROU SE PLEKKIE groot treffer by vanjaar se KKNK (21-26 Maart 2019)

Die nuwe Lefra-klug, MY OOM SE VROU SE PLEKKIE onder regie van Frans Swart, debuteer by vanjaar se KKNK in Oudtshoorn. 

Cobus en Estelle Venter het die teks vertaal en verwerk. MY OOM SE VROU SE PLEKKIE spog met van die land se mees talentvolste akteurs – Etienne du Plessis, Johan Joubert, Marissa Claasen, Ana van Achterbergh, Botha Enslin, Jané Swanepoel, Francois van Rensburg, Elma Potgieter en Zita Pretorius. Besprekings vir MY OOM SE VROU SE PLEKKIE by vanjaar se KKNK kan by Computicket gedoen word by 0861 915 8000 of besoek www.lefra.com

Die produksie speel by die kykNET Hoërskool Saal en speel op die volgende dae en tye: 21 Maart (09:30); 22 Maart (18:00); 23 Maart (09:30); 24 Maart (18:00); 25 Maart (09:30) en 26 Maart (18:00). Besprekings kan gedoen word by Computicket 08619158000. MY OOM SE VROU SE PLEKKIE word aangebied met die vriendelike samewerking van RSG, Sounds Good, Stuttaford van Lines, Hollywood Costumes en Van Loveren Wyne.

Frans Swart sê dat MY OOM SE VROU SE PLEKKIE seker die “malste” klug is wat Lefra nog aangepak het. “Ons hele span moes werklik baie kop hou met die een, want deure klap toe, mens kruip weg in kamertjies, misverstande is aan die orde van die dag en soos dit die klug behaag, gaan mense beslis vir twee ure heerlik kan lag,”sê Swart. “Mense wil nie meer wroeg as hulle teater toe gaan. Mense wil ontspan en dis juis hoekom ons klugte so gewild is. VIr twee ure, sien jy daar is ander mense wat meer moeilikheid as jy het. En die lekkerte is dat jy nog vir daardie ouens kan lag!”

MY OOM SE VROU SE PLEKKIE speel af in die baie elegante dakwoonstel van Philip (Etienne du Plessis) en Jeanette Martins (Marissa Claasen). Philip is `n baie eerbare kinderboekuitgewer en deel `n kantoor met sy vennoot, Henry Loots (Johan Joubert), op die grondvloer van dieselfde gebou. Philip stem teen sy sin in dat Henry die woonstel een aand leen om sy jongste vriendin, Saskie Wilkinson (Zita Pretorius) te trakteer. Terselfdertyd word Jeanette deur Linda (Ana van Achterbergh), Henry se vrou, oortuig om dieselfde woonstel vir haar te leen sodat sy haar jongste minnaar, Walter (Francois van Rensburg) kan onthaal. Maar wat niemand weet nie, is dat die binnehuisversierder, JP (Botha Enslin), wat die afgelope drie maande aan die woonstel gewerk het, besluit het om vir die au pair, Sylvie (Jané Swanepoel), die nuwe, ronde bed te wys. Dan maak die bekende Woefter-kinderboekskrywer, Doretha Marie van der Spuy (Elma Potgieter) ook haar ontydige verskyning. En ja, dit alles gebeur op dieselfde aand!

Share Button