Kreatiewe denkers by Boekgesprekreeks en hope plaaslike talent by KKNK

Feesgangers by vanjaar se KKNK het ’n geleentheid om na kreatiewe denkers te luister en meer oor hulle prosesse te leer tydens die Boekgespreksreeks in die ATKV-Boeke-oase.

Dié propvol program is deur Daniel Hugo, bekende digter en vertaler, en NB Uitgewers se Eben Pienaar saamgestel. Boekgesprekke duur 60 minute en word daagliks gratis in die ATKV-Boeke-oase in die Netwerk24-Feeskafee aangebied. Gesprekke word moontlik gemaak deur die Het Jan Marais Nationale Fonds.

’n Wye reeks onderwerpe en kwessies word tydens dié gesprekke bespreek en aangeraak, met iets waarby elke leser aanklank sal vind.

Ondersoekende joernalis Jacques Pauw gesels met Ivor Price oor sy topverkoper The President’s Keepers, (3 April 15:30) oor die donkerste geheim in die hart van oudpres. Jacob Zuma se regering, terwyl Adriaan Basson en Price oor Joernaliste en die president gesels (1 April 10:30) oor onder meer of joernaliste ’n korrupte regering op sy pad van verwoesting kan stuit.  

Chris Marnewick, Rudie van Rensburg en Irna van Zyl gesels in Misdaadskrywers (30 Maart 10:30) met Johannes de Villiers oor die opbloei van misdaadverhale wêreldwyd en in Suid-Afrika. Verder tot die misdaad-tema lei Price ’n gesprek met Julian Jansen oor Die De Zalze-moorde (30 Maart 12:00).

De Villiers, joernalis en joga-instrukteur, sê hy sien baie daarna uit om deel van ’n geleentheid te wees waar Afrikaanses hul verstand in ’n verskeidenheid rigtings kan rek en strek. “Die twee geleenthede waarby ek betrokke is, handel oor hoe om bewustelik (mindful) te leef (Kalmte in die malle gejaag, 30 Maart 14:00) en misdaadromans, so ver uitmekaar as wat twee onderwerpe kan wees. Dit is heerlik dat die KKNK vir albei ruimte het. Beide gesprekke gaan ’n ligte trant volg, sodat mense ’n pret kan hê terwyl hulle hopelik iets nuut leer,” sê hy.

Vertalings kom in die soeklig met Frank Westerman se besoek aan die KKNK uit Nederland, vir ’n gesprek met Hugo in El Negro en ek (31 Maart 10:30) oor sy boeiende boek, wat deur Hugo vertaal is. Kobus Geldenhuys en prof. Maritha Snyman tree in gesprek oor Jeugliteratuur in vertaling (29 Maart 10:30) oor die uitdagings wat die vertaling van jeugboeke bied.

Die program sluit drie kosdemonstrasies in, waaronder Boerekos met ’n twist deur Annelien Pienaar (30 Maart 15:30), waar die gehoor hul ma, ouma en oumagrootjie se huiskos herontmoet. Martelize Brink, bekende RSG-omroeper, nooi feesgangers na haar gesprek Martelize Kook! (1 April 15:30) met ’n versameling resepte wat sy na ’n lang werkdag geniet. Herman Lensing, SARIE se kosredakteur, deel op 2 April om 12:00 sy 30-minute-resepte, 30 dinge wat jy van wyn moet weet en ander kombuiswenke.

In Die lang man sonder skaduwee gesels Antoinette Pienaar (29 Maart 14:00) oor haar jongste boek se liriese beskrywings van die lewe in die Karoo en deel unieke inligting oor alternatiewe genesing.

Die dikwels omstrede Rian van Heerden gesels oor sy boek 16 dinge wat ek nie moes sê nie met Brink (31 Maart 15:30) terwyl Hykie Berg in gesprek tree met Johann van Lill oor sy boek My storie van hoop (1 April 12:00) oor sy jare lange stryd met dwelms.   

Digkuns kom in die soeklig met Aantekeninge teen die skemeruur met Clinton V. du Plessis wat met Hugo gesels oor sy nuwe digbundel, waarmee hy dit vir die eerste keer waag om die kollig te betree (3 April 14:00). Hendrik Hofmeyr en Laurinda Hofmeyr tree in gesprek met Hugo oor die toonset van Afrikaanse verse in Waarom toonset ek ’n gedig? (2 April 10:30). Petrovna Metelerkamp los ’n hele paar raaisels op in haar eerste omvattende biografie van Ingrid Jonker tydens Ingrid Jonker die onsterflike (2 April 14:00).

Pieter Fourie neem deel aan drie gesprekke: In Drama en die gemeenskap gesels Fourie, Amee Lekas en Marthinus Basson oor die invloed van teater op ’n verskeurde samelewing (3 April 10:30); Fourie praat tydens Veteraan aan die woord met Hugo oor sy debuut as digter op 77-jarige ouderdom en sy opwindende bundel Bidsnoer, wat pas verskyn het (4 April 10:30) en sluit die Boekgesprekke-program af op 4 April om 14:00 saam met Jolyn Phillips, Clinton V. du Plessis en Hugo met Vaarwel en koebaai, waar hulle voorlesings uit hulle nuwe werke doen.

Lag saam met André le Roux oor die hemelsbreë verskille tussen mans en vroue in Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) op 31 Maart om 12:00. Le Roux deel ook meer oor Narsisiste, psigopate, stalkers en sadiste (1 April 14:00), sy deeglik nagevorsde en onderhoudende boek.

Ander gesprekke sluit in Dwarsklap: Skakerings van swart in die nuwe Suid-Afrika (31 Maart 14:00) met Piet Matipa en Ek & Jy – verhoudings wat werk met Lisa Swart en Louis Awerbuck (2 April 15:30).

Al hierdie boeke is tydens die fees by die AKTV-Boeke-oase te koop. Die KKNK word van Donderdag, 29 Maart tot Woensdag, 4 April vir die 24ste keer op Oudtshoorn aangebied. Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers-, House & Home-winkels, of kontak 0861 915 8000. Vir verblyfbesprekings kan die KKNK se verblyfkantoor by 044 203 8600 of verblyf@kunste.org.za gekontak word.  

Share Button