Relevante drama oor water debuteer by KKNK

Een van die suksesstories van 2017 se Kunste Onbeperk Teksmark

Dag Zero wink vir Kaapstad, maar in Bauke Snyman (48) se drama Swerfgoed is 50 liter water per dag per persoon al lankal vir niemand meer beskore nie. Water is skaarser as hoendertande en mense sal enigiets doen om dit in die hande te kry – selfs moord pleeg.

Hoewel Snyman Swerfgoed al in 2009/’10 geskryf het, is dit nou eers opgeraap en debuteer dit vanjaar by die KKNK, wat van 29 Maart tot 4 April op Oudtshoorn aangebied word.

Dit is een van die suksesstories van Kunste Onbeperk se 2017-Teksmark met verskeie vennote wat aan boord gekom het om die produksie ’n moontlikheid te maak. Boonop is dit ’n eerste vir die bekroonde aktrise Tinarie van Wyk Loots wat met Swerfgoed haar regiedebuut maak, met Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm, Richard September en Andrew Laubscher in die rolverdeling.

Snyman verduidelik dat die dryfkrag agter die skryf van die teks legio was: Die Griekse dramaturge Aeschylus (sy Oresteia-trilogie) en Euripides (Iphigenia in Aulis); Al Gore se dokumentêre rolprent An Inconvenient Truth oor aardverwarming; en aan eie bas Grahamstad (waar hy toe gebly het) se munisipaliteit se infrastruktuur wat begin ingee het. “Vir dae was ons sonder water, of een deel van die dorp was kurkdroog en ’n ander deel was oorstroom as gevolg van die soveelste gebarste waterpyp. ’n Mens het nooit geweet as jy ’n kraan oopdraai of daar water gaan wees nie. Soms het daar ’n dik modderstraal uitgeborrel of ’n blasende, sissende droogheid was jou voorland.”

En so het hy uitgekom by Motel Stillewater, waar ’n eienaardige spulletjie mense op ’n godverlate vlakte woon. Dit speel af in die toekoms en water is die duurste hulpbron op aarde. Ingeweef by dié verskrikking van ’n werklikheid, is ’n magiese realisme. Ben Okri se The Famished Road was sy eerste blootstelling aan magiese realisme. “Daarna het ek die Suid-Amerikaanse skrywers verslind, maar het steeds nie geweet hoe om dit vir die verhoog aan te wend nie. Toe op ’n dag lees ek Martin McDonagh se toneelstukke en ek kon nie genoeg van hom kry nie. Die manier hoe hy die Ierse kultuur, magiese realisme, sardoniese humor en geweld saamgooi, was die keerpunt in my skryfwerk. Quentin Tarantino se flieks en Cormac McCarthy se The Road is ook ’n groot invloed.”

Snyman se liefde vir drama kom van kleintyd af. In gr. 7 het hy gereken hy wil ’n regisseur word. Ná skool het hy drama gaan studeer aan die NWU (destyds die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys) en gefokus op toneelspel. “In my derde jaar het ek Mozart gespeel in Peter Shaffer se Amadeus.  Met dié produksie het iets in my verander. Ek dink ek het al my demone uitgespeel en die vereiste kwesbaarheid van ’n akteur het my skielik nie meer aangestaan nie.”

Sy werksloopbaan was deurgaans in die dramaveld, by ’n kultuursentrum, by skole en nou ook as departementshoof van teaterkuns by die Presbyterian Ladies’ College in Perth, Australië, waar hy sedert 2014 woon saam met sy vrou en twee kinders. “Ek bestuur die teater (ja, die skool het ’n ongelooflike teater – ek noem dit my speelparkie) en ek is ook ’n drama-en-teater-onderwyser en ’n regisseur.”

Tussendeur het hy hand op papier gesit. Die bannelinge is in 2009 by die KKNK opgevoer en het die Sanlam-prys vir Afrikaanse Toneel gewen. Drie tekste het gevolg, waarvan elkeen vir ’n ATKV-Veertjie benoem is: Die onsigbare kind, Swerfgoed en Pop. Ná ’n voorlegging van sy tekste vir die Kunstekaap se nuwe seisoen in 2013 het hy die pen neergelê. Terugvoering met woorde soos “mense praat nie so nie”, “sensasie” en “onopvoerbaar” het hom geknak.

Dit is hier waar Tinarie van Wyk Loots inkom. Met ’n ompad deur ’n familielid het Swerfgoed en Pop in Oktober 2013 in haar e-pos se inboks beland. Sy het dit gelees, was “mal daaroor” en het geweet: Dié dramas moet opgevoer word. En so doen die tekste toe die rondte van vader Cloete. Sommige lees dit nie eens nie, ander het nie tyd om dit op die gegewe tyd aan te pak nie. Met verlede jaar se Teksmark word albei dramas uit talle aansoeke aanvaar om as leesteater aangebied te word. En verskeie partye staan skielik tou om betrokke te raak. As vennote in die Teksmark besluit die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Baxterteater (in samewerking met KKNK en US Woordfees) daar en dan Swerfgoed gaan ’n drama wees wat hulle vanjaar gaan aanbied.

Die tydsberekening kon nie beter wees nie. Elke dag in die koerante: water, water, water. Só spring die bekroonde Van Wyk Loots ook in die diep kant in met haar debuut as regisseur. “Dit is alles net ongelooflik. Swerfgoed se tyd is nóú. Die hele span waarmee ek nou kan saamwerk, van die akteurs tot die ontwerper (Jemma Kahn). Daunting, ja, maar geweldig opwindend. Ook bevrydend.”

Om rondom almal se skedules te werk, het hulle reeds in Desember begin repeteer. ’n Organiese proses het begin. Hoe meer hulle met die teks werk, hoe meer lae word blootgelê, hoe meer temas kom na vore. Sy noem op: kwessies rondom grond, die individu versus die massa, die sondes van die vaders, die morele waardes waarmee keuses gemaak word, wraak en vergelding. “Dit is ’n cautionary tale. Hoe water ’n werktuig, ’n verskoning vir geweld word. Hoe dit die beste en die slegste in mense uitbring.”

Sy vertel van die kleurvolle ontwerp en inkleding, die klankbaan en die heerlike aweregse humor. “Swerfgoed steek die leeu met ’n skerp stokkie op sagte plekke, maar dit is ook entertainment. Daar is iets vir oud en jonk (hoewel nie geskik vir kinders nie).” 

Swerfgoed gebeur uiteindelik en Loots is vasbeslote dat Pop nie in vergetelheid raak nie. En intussen Doer Onder het Snyman weer die pen opgetel. Hy het gewerk met grond (Die bannelinge), met water, en nou gaan die element lug aan die beurt kom. Die vuur is terug om sy trilogie klaar te maak.

Swerfgoed is op 29 Maart om 10:00, 30 Maart om 15:00, 31 Maart om 17:00, 1 April om 16:00, 2 April om 20:00 en 3 April om 10:00 in die Gimsaal te sien. Kaartjies kos R135 (vooraf) en R150 by die deur. ’n Gratis gesprek word na afloop van die vertoning op 29 Maart met die geselskap aangebied.

Die KKNK se volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600 gedoen word.

Share Button