banner ad

H5N2-virus versprei na nóg plase in Karoo

Tisha Steyn

Oudtshoorn – Die volstruisbedryf is in ’n verdere krisis gedompel toe gevalle van die H5N2-virus op nog vyf plase in die Klein-Karoo-vallei aangeteken is.

Volgens mnr. Anton Kruger, uitvoerende hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Volstruis-sakekamer, grens drie van die plase aan die plaas in die Kango-vallei waar die virus oorspronklik aangeteken is. Twee is in die Volmoed-gebied geleë.

Kruger het benadruk dat alle monsters op ander plase in die Klein-Karoo-vallei en in die land negatief vir die virus getoets het.

“Altesaam 5700 volstruise is op die eerste plaas van kant gemaak. Nou moet daar nog sowat 10000 volstruise geslag word.”

’n Algehele verbod op die vervoer en slag van volstruise en die uitvoer van vleis na lande in die Europese Unie (EU) is in Suid-Afrika ingestel nadat die virus op 11 April op die eerste plaas bevestig is.

Van 3 Mei is die verbod op die slag van volstruise by abattoirs buite die Klein-Karoo-vallei opgehef.

Geen volstruisvleis mag egter uitgevoer word voor die EU Suid-Afrika H5N2-vry verklaar nie.

In die Klein-Karoo-vallei is die verbod steeds van krag en mag geen volstruise geslag of sonder ’n spesiale permit van die staatsveearts verskuif word nie.

“Dit is egter verskriklik belangrik dat mense verstaan dat alle volstruisprodukte veilig is vir menslike gebruik. Die virus word nie na mense oorgedra nie,” het Kruger gesê.

Volgens Kruger kan produsente ingevolge ’n ooreenkoms met die staat gedeeltelik vergoed word vir volstruise wat van kant gemaak moet word. “Die velle en vere van voëls wat groot genoeg is, kan gebruik word om die vergoeding aan te vul. Vleis wat tot ’n hoë temperatuur verhit word, kan ook vir hondekos gebruik word.”

Volgens hom is die probleem dat boere vir die volgende ses maande nie volstruise op plase mag aanhou waar volstruise van kant gemaak is nie. Dit beteken ook hulle sal nie hul werkers kan onderhou nie.

“Dieselfde geld die werkers op plase waar volstruise nie vervoer of geslag mag word nie. Solank die produsente nie hul diere vir die mark mag aanbied nie, het hulle geen inkomste nie en kan hulle nie hul werkers onderhou nie.”

Kruger het gesê sowat 52000 mense word deur die verbod geraak. Dit sluit nie net plaaswerkers en hul gesinne in nie, maar ook werkers by slagpale en ander verwante verwerkingsbedrywe.

- Die Burger

Popularity: 15% [?]

Filed Under: Oudtshoorn Business News

Tags:

About the Author:

RSSComments (0)

Trackback URL

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.