Besoekers kan hul gereed maak vir magiese vertoning

Verskeie top kunstenaars is reeds op Hartenbos vir Saterdagaand se galakonsert, Hartenbos in Afrikaans.

Die galakonsert van die In Afrikaans Konsertreeks het uiteindelik aangebreek en vakansiegangers op Hartenbos kan hulle solank regmaak vir ’n magiese vertoning.

Hartenbos in Afrikaans is die vlagskip-produksie van die konsertreeks In Afrikaans en Saterdagaand sal nie minder nie as dertien van die land se grootste name saam op een verhoog wees. ’n Orkes, wat groot name insluit soos Floors Oosthuizen en Danny Smoke, sal bydra om dié ’n produksie vanuit die boonste rakke te maak.

Of jy nou die rasperstem van Theuns Jordaan of die engelestem van Karlien van Jaarsveld verkies – hul dinamika saam op een verhoog is magies! Robbie Wessels, Leah, Bok van Blerk en Karen Zoid is om maar net ’n paar van die name wat deel vorm van dié konsert.

Bring dus jou kampstoel en kombers en kom kuier lekker saam met jou gunsteling Afrikaanse kunstenaars. Kosstalletjies en ’n kroegtent sal beskikbaar wees, sowel as ’n winkel wat items van die kunstenaars sal verkoop.

As jy nog nie deel van die JOOX-gemeenskap is nie, is daar nou nie verder ’n rede om uit te mis nie! Die span van JOOX kuier nog op Hartenbos en bied met die komplimente van die In Afrikaans konsertreeks, gratis BBP-lidmaatskap aan alle musiekliefhebbers. Dié musiekstroom-app wat tans op almal se lippe is, bied jou ongekende toegang tot die wêreld van musiek.

Die span van JOOX sal jou ook wys hoe om die In Afrikaans-speellys, wat spesiaal deur JOOX vir dié konsertreeks saamgestel is, af te laai. Jou gunsteling In Afrikaans-kunstenaar se musiek was nog nooit so maklik binne bereik nie!

Ná vanaand is daar nog een vertoning wat oorbly, en dit is Akoesties in Afrikaans met Theuns Jordaan, Riana Nel, Elvis Blue en Jo Black. Dit vind plaas op 4 Januarie 2018 by ATKV-Hartenbos se amfiteater.

Kaartjies beskikbaar by www.itickets.co.za of 086 1000 291.

Share Button