Van braai tot brandewyn – Kevin Leo leer kook by François Ferreira

Die somer kook by die Diaz Strand Hotel en die tiende jaarlikse Summer Sun Festival wat van 10 Desember – 7 Januarie loop. Daar is kompetisies, pryse, iets vir die dorses, iets vir die honger magies, iets vir die oog, en die beste van alles is dit het nou eers begin. 

Maar Diaz Strand kook hierdie jaar ook op ‘n meer letterlike vlak, met die fenomenaal talentvolle viruoos Kevin Leo wat gaan leer kook by een van Suid-Afrika se voorslag kosfundies, die sjef, skrywer, vermaaklikheidspersoonlikheid, en sommer net geliefde ‘celebrity’ François Ferreira. 

Op 19, 21, 23, 27, 28, 30 en 31 Desember om 12:00 en 14:00 gaan François vir Kevin die fyner kunsies leer van kosmaak in die Diaz Strand Hotel se Convenience Market tot die vermaak (en in sommige gevalle ook die onderrig) van besoekers, gaste en skelm loerders. Met skertsende en soms skreeusnaakse sêgoed wat heen en weer geslinger gaan word soos ‘n koshuiseetsaal kosgeveg, is hierdie ‘n onderonsie wat nie misgeloop moet word nie. (Wonder of François vir Kevin ook in die rede gaan val as hy sing soos wat Kevin vir seker sal terwyl François kook?) 

François sal ook op 27, 28 en 30 Desember in die Convenience Market beskikbaar wees vir ‘n handtekening na afloop van die demonstrasies. Al is Kersfees dan iets van die verlede, kan jy nie verkeerd gaan as jy een van sy resepteboeke opraap in die Convenience Market vir ‘n geskenkie vir die Nuwejaar vir iemand spesiaals of sommer vir iemand baie spesiaals, jyself (en dan kan hy dit nog teken spesiaal aan jou ook). 

Vir die wat eenvoudig na al die sessies net nie genoeg kan kry van hierdie twee se aansteeklike persoonlikhede nie, is daar ‘n baie spesiale aand net vir julle gereël. Op 27 Desember gaan die Bahia gasheer speel vir ‘n Brandewynaand met Kevin & François. Die Brandewynstigting van Suid-Afrika het fantastiese brandewyne beskikbaar gestel vir die geleentheid, waaronder ‘n 100jaar oue brandewyn. Dit is ‘n eksklusiewe aand en kaartjies verkoop teen R350 per persoon en sluit ‘n watertand skyskaart in, die brandewyne, en natuurlik François se pittige kwinkslae en die soet klanke van een van Suid-Afrika se beste tenore (ja, Kevin, natuurlik). 

Kaartjies is by Diaz Strand Hotel beskikbaar, maar wikkel, want daar is slegs ‘n beperkte aantal beskikbaar. Vir meer inligting, besoek www.diazbeach.com, volg die Summer Sun Festival op Facebook of skakel vir Nadia van Interface by Goji op 074 897 4180 of by info@gojipr.net

Of jy nou wil leer kook of leer wat op aarde ‘potstil’ beteken, Diaz Strand Hotel is die plek om te wees. Dit is ‘n feit – die somer is hier. En jy?

 

Share Button