Skaars juweel uitgestal

George – Die 23ste George Oumotorskou, wat ondersteun word deur Oakhurst Versekeringsmaatskappy, vind op 9 en 10 Februarie 2019 plaas en fokus op skaars en eksotiese voertuie.

Robert Middelman van Botrivier besit ‘n EMF, oftewel ‘n Everitt, Metzger & Flanders, wat in 1912 in Detroit in die VSA vervaardig is. Die voertuig is een van ‘n hele klomp baie skaars voertuie wat tydens die 2019 George Oumotorskou uitgestal word.

Die Amerikaanse EMF-maatskappy het tussen 1909 en 1912 voertuie vervaardig. Drie vennote, Barney Everitt, ‘n bakbouer van Detroit, William Metzger, voorheen van Cadillac, en Walter Flanders, Henry Ford se vervaardigingsbestuurder, het kragte saamgesnoer om die voertuig in die maatskappy se kortstondige bestaan te bou.

 “Ons voertuig het aan wyle Angus Kinnes, een van die stigterslede van die Crankhandle-klub in Kaapstad, behoort,” vertel Richard Middelmann. “My pa Robert het die kar in 1972 by Angus se weduwee gekoop. Die kar het destyds aan ‘n tydren deelgeneem, die laaste tot in 2003. Die enjin was kapot en ons het die kar met ons ou Ford-vragmotor na ons plaas Honingklip Vrugte by Botrivier gebring.”

Volgens Richard is die EMF se enjin oorgedoen en toe êrens in ‘n hoekie gebêre. Die bakwerk is van die onderstel verwyder, uitmekaar gemaak en gestoor. Die onderstel is aan die werkswinkel se dakbalke opgehys.

“Rondom 1998 het ek op ‘n dag vir my pa gesê ons behoort die EMF aanmekaar te sit sodat ons darem ‘n bruikbare veteraanmotor kon hê waarmee ons kon ry. Ons het besluit die einde van die eeu sou ‘n goeie spertyd wees om ten minste die enjin aan die gang te kry, al was die enjin net op die onderstel monteer. En op 31 Desember 1999 kon ons die enjin aanskakel!”

Dit het nog vyf jaar geneem om die voertuig te herbou. “Ons volgende mikpunt was om die motor teen 2003 voltooi te hê, betyds om aan die Houwhoek-tydren deel te neem – en ons het dit sowaar reggekry!”

Hulle moes ‘n nuwe bakwerk van hout bou, want die ou een was heeltemal verrot. “Lang ure en baie harde werk is aan die motor bestee, maar ons was betyds klaar vir die Houwhoek-tydren.”

Sedertdien het die voertuig aan talle tydrenne en skoue deelgeneem. “My ouers het ‘n paar jaar gelede die Milligan-tydren voltooi. Hulle het met die motor na die beginpunt in Oudtshoorn gery, aan die tydren deelgeneem en veilig teruggekeer – ‘n rit van sowat 1 600km!” Richard het die voertuig ook al talle kere by die George Oumotorskou uitgestal en aan verskeie Veteraantoere deelgeneem.

Op 9 en 10 Februarie sal die EMF weer by die George Oumotorskou by PW Botha Kollege in Yorkstraat te sien wees.

Bespreek vooruit

Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.quicket.co.za op die Events-blad van die Suid-Kaap Oumotorklub se webtuiste www.scocc.co.za

Toegangsfooie

Saterdag: Volwassenes R60pp, Pensionarisse R45pp, kinders o12 R25pp

Sondag: Volwassenes R25pp, Pensionarisse R20pp, kinders o12 R15pp

Naweektoegang: Volwassenes R70pp, Pensionarisse R50pp, kinders o12 R30pp

Hektye

Saterdag 9 Februarie: 07:00 – 18:00

Sondag 10 Februarie: 08:00 – 13:00

Vooraf registrasie van voertuig

Slegs voertuie wat voor 1975 vervaardig is en wat vooraf geregistreer is, mag by die George Oumotorskou uitgestal word. Registreer op die webtuiste www.scocc.co.za of kontak Klaus Oellrich by 076 764 0897 vir meer inligting oor registrasie of algemene inligting.

Voornmende stalletjiehouers kan die aansoekvorm van die webblad aflaai, of Mike van der Steen by 083 280 3653 bel vir meer inligting.

Robert Middelmann in sy EMZ, wat tydens die 2019 George Oumotorskou uitgestal word.

Share Button