Advertise your business.  Post your CV.  Search job seekers

Morris Minor 1000’s staan hul man

George – Nie minder nie as vier Morris Minor-voertuie neem vanjaar aan die sesde Liquorland Erfenistoer deel wat van 23 tot 27 September deur die Oos-Kaap toer. 

Pierre Olivier en Fernando Gomes van PnP voor die vertrek van die 2016 Erfenistoer vanaf die PreCap-sentrum in Courtenaystraat

Pierre Olivier van Blanco, voorsitter van die reëlingskomitee van die Erfenistoer, wat een van die hoogtepunte op die Suid-Kaap Oumotorklub se kalender is, neem vanjaar vir die sesde keer deel. Vanjaar ry hy weer met sy 1962 Morris Minor 1000.

Pierre Olivier in sy Morris Minor 1000 pak die lang pad. Foto’s: Tisha Steyn

Olivier is baie trots op dié voertuig wat hy ses jaar gelede in ‘n pakstoor op Robertson opgespoor het. Die voertuig, wat 21 jaar lank in die pakstoor gestaan het, was volledig, maar tog was ernstige restourasiewerk nodig – die remme was byvoorbeeld deurgeroes. Hy het die voertuig met groot liefde en sorg tot sy eertydse glorie gerestoureer.

“Sedert die eerste Morris Minor 1000 in die middel-vyftigerjare tot vroeë sewentigerjare (1956 tot 1971)  deur die British Motor Company (BMC) vervaardig is, is dit steeds die gewildste gesinsmotor wat nog ooit in die Verenigde Koninkryk verkoop is,” vertel hy. Na raming is daar meer as een en ‘n halfmiljoen van die voertuie verkoop, en tot vandag is dit ‘n baie gesogte versamelaarsitem in Brittanje se voormalige kolonies, insluitend Amerika, Australië, Kanada, en duidelik ook in Suid-Afrika!

Volgens Olivier was dié voertuig, die voorloper van die immergewilde Mini,  sy tyd ver vooruit. “Dit is voorsien van ‘n rat en tandrat-stuurmeganisme (rack and pinion), ‘n beginsel wat vandag nog gebruik word. Dit was ook een van die eerste motors wat voorsien was van ‘n wringstaaf-voorsuspensie (torsion bar front suspension) nie vere nie.”

Olivier se tweedeur Morris Minor 1000 se deuropeninge is bietjie groter as dié van die vierdeur model, en dit is darem nie te moeilik vir die grote man om in en uit die voertuig te klim nie. Sy vrou Tilly onderneem vanjaar die Erfenistoer saam met hom.

Die ander Morris Minor 1000-modelle wat vanjaar deelneem, behoort aan George Marx en Mariette Terblanche van Tergniet wat ook vir die sesde jaar in hul 1957-model deelneem, Jan and Anita Wright van Danabaai wat in hul 1958-model deelneem, en Sydney and Daphne Young van Tulbagh wat in hul 1961-model deelneem.

Die Erfenistoer vertrek Saterdagoggend 23 September vanaf die PreCap-sentrum in Courtenaystraat, George, na Jeffreysbaai, waar hulle die eerste aand oornag. Die tweede dag oornag hulle op die dorpie Addo, die derde dag op Graaff-Reinet, en die vierde en laaste dag op Willowmore. Hulle pak die laaste tog op 27 September aan, en nadat die gasvrye mense van De Rust hulle by die NG Kerk onthaal het, voltooi hulle die reis na George.

Inwoners van hierdie dorpe en ander plekke langs die roete van net meer as 1 000 km is welkom om die deelnemers te ontmoet en uit te vra oor hul voertuie.

Lees meer op die webblad www.scocc.co.za oor die volledige reisprogram.

Share Button

Filed Under: Sport & Entertainment

Tags:

About the Author:

RSSComments (0)

Trackback URL

Comments are closed.