Duisende modelle vier ook Duitse motor-erfenis

George – Die George Oumotorskou, gedrewe deur Oakhurst  Versekeringsmaatskappy Beperk, se 21ste bestaansjaar word op 11 en 12 Februarie 2017 gevier.

Meer as 15 000 modelmotortjies sal tydens die 2017 George Oumotorskou, in vier klaskamers by PW Botha Kollege in Yorkstraat te sien wees.

Die gewilde skou wat verlede jaar ‘n rekordgetal van meer as 12 000 besoekers vanoor die hele land gelok het, vier sy 21ste herdenking met ‘n spesiale uitstalling van voertuie wat in Duitsland vervaardig is. ‘n Uitstalling van modelmotortjies met ‘n Duitse handelsmerk word hierdie jaar ook as deel van die spesiale viering aangebied.

“Altesaam dertien versamelaars, hoofsaaklik van George en omgewing, stal vanjaar sowat 2500 van hul modelle uit,” sê Ignatius Anker, lid van die George Modelmotorklub, wat die uitstalling koördineer.

Een van vier klaskamers word gevul met versamelaars soos Anker, Pierre Conradie en Ria Meyer, albei ook van George se kosbare miniatuurmotortjies. “Ria se man Jurie het voor sy dood begin om miniatuurmodelle te versamel en vandag is Ria, haar seun en skoondogter elkeen ‘n versamelaar in eie reg,” sê Anker.

Bruce Sapsford van Bloemfontein bring ook sy handgeboude modelle met ‘n 1:24-skaal. “Bruce bou al dekades lank modelle en kom wys graag vir skougangers wat ‘n mens met jou hande kan doen.”

In die ander drie klaskamers gaan altesaam sewentien handelaars tussen 10 000 en 15 000 modelmotortjies uitstal en te koop aanbied. Die handelaars kom van oral in die land en bied die ideale geleentheid vir jong (en ouer) entoesiaste om hul eie versamelings te begin.

“Die uitstalling by die George Oumotorskou bring ast’ware die modelle na die mense toe, en al koop jy nie een nie, bring dit vir baie mense nostalgiese herinneringe terug van ‘n speelding wat hy as kind gehad het.”

Anker het sy eie versameling in die laat negentigerjare begin toe hy sy eerste model in Port Elizabeth aangeskaf het. “Toe kon jy ‘n redelike goeie 1:43-skaal modelletjie vir tussen R100 en R150 kry. Nou sal dieselfde model jou tussen R500 en R800 kos.”

Sy versameling fokus hoofsaaklik op motors uit die Audi-stal, wat  Audi, DKW, Auto Union, Horch, Wanderer en NSU insluit, maar hy het ook ‘n groot versameling Volkswagens, Porsche-modelle en ‘n Bugatti of twee, wat mooi aanpas by vanjaar se spesiale uitstalling van voertuie van Duitse oorsprong.  

Vir versamelaars het hy die volgende raad: “Koop die skaarste model wat jy kan bekostig, maar selfs ‘n modelletjie van R30 wat in sy verpakking gehou word gaan oor 20 jaar skaars wees en in waarde toeneem.”

Die goedkoopste modelle is tweedehandse motortjies waarop baie speel ‘n merk gelaat het sodat dit ‘n bietjie nerf-af is en dalk ‘n wieletjie kort. Plastiekmotortjies vir ‘n kind kos so min as R10.

Pryse vir modelle met goeie versamelwaarde wissel tussen sowat R150 vir ‘n 1:87 skaal, wat baie baie klein is, terwyl ‘n redelike versamelaarsitem op ‘n 1:43 skaal tussen R500 en R800 kos en jy tot R4 000 vir ‘n 1:18 skaal kan betaal.

CMS en Exoto is twee vervaardigers van goeie, duur en skaars modelmotortjies wat hoog aangeskryf word.  “Omdat CMC se modelreekse van jaar tot jaar verander, is die modelle wat vanjaar te koop aangebied word, nie noodwendig volgende jaar beskikbaar nie,” sê Anker. “Die modelle kos reeds tussen R4 000 en R6 000, en wie weet wat dit gaan kos wanneer hulle weer op die mark kom.”

Volgens Anker sê party versamelaars hulle koop die modelmotortjies as ‘n belegging, maar hy het sy bedenkinge. “Mens raak geheg aan die modelletjies en die kans dat jy dit eendag gaan verkoop is maar skraal,” sê hy en lag. Sy eie modelle word in hul oorspronklike verpakking gebêre totdat hulle op spesiale rakke wat hy in die braaikamer gaan installeer uitgestal word. . .

Die modelmotortjies het ‘n ryke geskiedenis, sê Anker. Die eerste modelmotortjies is in die twintigerjare van lood en brons gemaak en het nie ‘n spesifieke voertuig verteenwoordig nie. In die veertigerjare is karretjies van geperste blik gemaak waarop venstertjies geverf is en wat ‘n mens kon opwen. In die vyftigerjare is motortjies met ‘n metaaldop met plastiekversters gemaak. Vandag is elke modelmotortjie ‘n presiese weergawe van die ware jakob, maar as jy nou nie die lewensgrootte model kan bekostig nie, is ‘n modelmotortjie van jou keuse ‘n goeie tweede beste.

Algemene Inligting oor die George Oumotorskou

Die George Oumotorskou gedrewe deur Oakhurst Versekering vind plaas by die PW Botha Kollege in Yorkstraat, George. Parkering op skoolterrein is beskikbaar.

Toegang

Saterdag: Volwassenes R50, Pensionarisse R40, Kinders R20

Sondag: Volwassenes R20, Pensionarisse R15, Kinders R10

Naweekpakket vir Saterdag en Sondag: Volwassenes R60, Pensionarissse R45, Kinders R25

Hektye is Saterdag 07:00 tot 18:00 en Sondag 08:00 tot 13:00

Melvin Naik, George se uitvoerende burgemeester, neem die amptelike opening Saterdag om 10:00 waar.

Kontak Phillip Rosser by 082 410 5490 of Chris van Staden by 082 491 5254 vir meer inligting, of besoek die Suid-Kaap Oumotorklub se webblad by www.scocc.co.za

Share Button