Bejaarde vrou gehelp met lekkende dak

‘n Bejaarde vrou (64) van Blanco sê sy het die beste Kersgeskenk van haar lewe ontvang nadat die Wyksraadslid van Blanco, Rdl. Jean Säfers donasies gekry het om die dame se lekkende dak reg te maak.

Hier staan Rdl. Jean Säfers, Pumzile Makeleni, Johanna Petro, Fanie van Wyk van Build it en Unathi Ndatyana op die dak met die aflaai van die dakplate

Mev. Johanna Petro van Marasingel, Golden Valley wat alleen in haar huis woon nadat haar man haar ‘n paar jaar gelede ontval het, sê sy moes heelnag water vee as die reën begin uitsak het. Die water het by haar dak ingestroom.

Om dinge te vererger, het haar seun probeer om die dak waterdig te maak, maar die asbesdak is so vrot dat hy ‘n gat in die dak getrap het.

Mnr. Fanie van Wyk, takbestuurder van Build it George en ‘n plaaslike kontrakteur, mnr. Pascal Lubile van Moreki kontrakteurs het dit in hul harte gevind om in hierdie uitsonderlike geval mev. Petro te help om haar dak te herstel.

Mnr. Van Wyk het gesê dit is vir hom ‘n eer om iemand wat so erg in die nood is, te help. Hy sê Build it probeer sover moontlik behoeftige mense in die George gemeenskap help.

Rdl. Säfers het net voor Kersfees gereël dat die dakplate afgelaai en op die platdak van die woning geplaas word. Moreki kontrakteurs het aangebied om die kontrakteur te betaal wie die dakplate vervang het. Pascal Lubile van Moreki kontrakteurs wie tans chemiese toilette in die Informele areas voorsien en ook die 71 laekoste eenhede in Protea Park Informele area bou sê dat dit vir hom ‘n aangename voorreg is om Mev. Petro te kan help.

 Rdl Säfers het mnr. Van Wyk en Moreki kontrakteurs bedank vir hul onbaatsugtige diens aan die gemeenskap en die seën van die Here oor hulle besighede toegewens.

Share Button
,