Veteraantoer durf Prins Alfredpas aan

George – Die George Oumotorskou, gedrewe deur Oakhurst  Versekeringsmaatskappy Beperk, se 21ste bestaansjaar word op 11 en 12 Februarie 2017 gevier.

Die twaalfde Veteraantoer wat op die vooraand van die George Oumotorskou plaasvind, vertrek Vrydagoggend 10 Februarie vanuit Uniondale. Vanjaar sluit die roete van 145 km ‘n stuk grondpad van sowat 40km van die Prins Alfredpas in voordat die voertuie oor De Vlugt na Herold en vandaar na George ry.

Altesaam 16 voertuie is tot dusver vir vanjaar se Veteraantoer geregistreer. Die deelnemers, wat onder meer van sover as Harrismith, Oos-Londen, Kimberley, Johannesburg, Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad kom, oornag op 9 Februarie in gastehuise in en om Uniondale. Hulle kom Donderdag om 17:00 by die African Aloe Café bymekaar en vertrek weer daarvandaan om 09:00 Vrydagoggend. “Belangstellendes kan gerus inloer om die veteraanvoertuie te besigtig en die eienaars te ontmoet,” sê Philip Kuschke, wat die Veteraantoer reël.

Volgens Kuschke strek die roete oor 145 km.  Die roete strek vanaf Uniondale deur die Prins Alfredpas en via De Vlugt na Herold waar hulle om 12:30 middagete geniet voordat hulle koers kies na George waar hulle omstreeks 15:00 by die skouterrein by PW Botha Kollege in Yorkstraat aankom.

“Die toer gaan vanjaar beslis iets anders wees, want ons ry deur die sprokiemooi Prins Alfredpas wat in 1861 deur Thomas en Andrew Bain met 270 bandiete gebou is,” sê Kuchke.

Die oudste voertuig wat deelneem is Nick Middelman van Botrivier se 1909 Nordenveld – die enigste van sy soort ter wêreld. Agt Model T Fords, wat dateer tussen 1912 en 1923 neem deel, asook twee Model A Fords uit 1927 en 1930. Ander voertuie wat deelneem is ‘n 1913 Buick, 1916 Chevrolet, ‘n 1923 Dodge, ‘n 1925 Bullnose Morris en ‘n 1926 Austin Chummy.

“Vir die eerste keer het ons ‘n volledige damespan wat ingeskryf het: die bestuurder, navigator en passasier is almal dames,” sê Kuschke. Die drie dames kom onderskeidelik van Johannesburg, Pretoria en George.

Die gedagte aan ‘n toer vir motors/motorfietse wat sonder voorremme vervaardig is, en wat die jaarlikse  George Oumotorskou voorafgaan , het sy ontstaan in 2005 gehad.  In aanloop tot die 2006 George Oumotorskou het Harvey Metcalf van die Crankhandle Klub in Kaapstad ‘n toer na George gereël waaraan sowat tien van die klublede deelgeneem het.

“Omdat hierdie tipe geleenthede vir die Noagmotors beperk is, het die Suid-Kaap Oumotorklub besluit om ‘n soortgelyke toer te reël, en die eerste toer van 2006 het vanaf Prins Albert vertrek.”

Vanjaar kom deelnemers aan die Crankandle Klub se jaarlikse een-dag Kalkbaaitoer na afloop van daardie toer op 5 Februarie in George aan sodat die wat verder wil toer ook aan die Veteraantoer kan deelneem.

Die eerste toer vanaf Kaapstad na George het die mite dat veteraanmotors nie betroubaar is nie, verkeerd bewys. Kuschke haal veteraan-entoesias, Kevin Casey, aan:  “Die bestuurder van die motor raak lank voor die motor moeg vir die pad!”

Van die uitsonderlikste voertuie wat die afgelope tien jaar aan die Veteraantoer deelgeneem het, sluit ondere meer oorlede Kobus van Jaarsveld se 1906 Stanley Steamer in. Ander van Kobus se voertuie wat met die jare deelgeneem het, is ’n 1901 Oldsmobile, 1919 Cadillac, 1910 Buick en ’n 1926 Lancia Lamda.

Baie van die deelnemers beskou die Veteraantoer as ‘n verlengstuk van die George Oumotorskou. “Die toer is ‘n addisionele trekpleister na George om dit vir die manne wat van ver af kom die moeite werd te maak,” sê Kuschke. “Tydens hierdie toere word ou vriendskapsbande weer gesmee en die entoesiasme vir die gebruik en restourasie van die houtspeek-motors word aangewakker.”

Rig navrae aan Philip Kuschke by 082 856 5152 of 044 871 3373 (na-ure).

Algemene Inligting oor die George Oumotorskou

Die George Oumotorskou gedrewe deur Oakhurst Versekering vind plaas by die PW Botha Kollege in Yorkstraat, George. Parkering op skoolterrein is beskikbaar.

Toegang

Saterdag: Volwassenes R50, Pensionarisse R40, Kinders R20

Sondag: Volwassenes R20, Pensionarisse R15, Kinders R10

Naweekpakket vir Saterdag en Sondag: Volwassenes R60, Pensionarissse R45, Kinders R25

Hektye is Saterdag 07:00 tot 18:00 en Sondag 08:00 tot 13:00

Melvin Naik, George se uitvoerende burgemeester, neem die amptelike opening Saterdag om 10:00 waar.

Kontak Phillip Rosser by 082 410 5490 of Chris van Staden by 082 491 5254 vir meer inligting, of besoek die Suid-Kaap Oumotorklub se webblad by www.scocc.co.za

Share Button