Inbrake by Conville Biblioteek

George Munisipaliteit rig ‘n versoek aan inwoners in Conville en omgewing om ons asseblief te help om booswigte aan die pen te laat ry wat nou gereeld by Conville biblioteek inbreek.

6Me. Rachel Williams, Hoof bibliotekaris, het gesê al die biblioteke in en rondom George lewer ‘n noodsaaklike en opbouende diens aan die gemeenskap, maar met inbrake wat sedert die begin van die jaar toegeneem het, word die diens aan die mense onderbreek.

Sedert die begin van Januarie het ons nie minder nie as drie inbrake by Conville biblioteek gehad. Die gemeenskap ly aan die kortste end weens die inbrake, omdat hulle op gereelde basis as gevolg van die inbrake weggewys moet word.

Die inbrake by spesifiek Conville biblioteek het reeds die afgelope paar jaar ‘n aanloop, maar het sedert die begin van die jaar toegeneem. Die biblioteek het by tye al ure lank of selfs dae lank gesluit weens die omstandighede. Studente wat graag in ‘n rustige atmosfeer hul navorsing of tuiswerk wil doen, is gestrand gelos gedurende hierdie tydperke.

Werklose mense en werksoekers is veral afhanklik van die internetdiens by die biblioteek asook die verskeie koerante wat by die biblioteek beskikbaar gemaak word. Me. Williams het gesê dit is baie jammer om te sien dat ‘n gemeenskapsmiddelpunt wat gebruik word vir gemeenskapsontwikkeling, inligting, ontspanning en onderrig doelwitte deur diewe geteiken word.

George Munisipaliteit het reeds in Februarie 2014 ‘n veldtog teen vandalisme begin en het die publiek se hulp nodig om enige vandalisme onmiddellik aan te meld.

George Munisipaliteit onderneem om ‘n beloning van R2 500 te betaal aan enige persoon  wat inligting verskaf oor die vandalisering en of diefstal van munisipale bates en waarvan die inligting tot die suksesvolle skuldigbevinding van ‘n beskuldigde in ‘n regshof lei.

George Munisipaliteit het reeds CCTV kameras op strategiese plekke regoor die stad en wetstoepassers is ook gedurig op die uitkyk vir vandale.

Bel die polisie by 10111 of George Munisipaliteit Wetstoepassing by 044  801 6386 of 801 6300 indien u enigiets verdag opmerk. Die persoon/persone wat inskakel moet hul naam en kontakbesonderhede verskaf, want hul getuienis mag dalk benodig word in die suksesvolle vervolging van skuldiges.

Share Button