George-DA verras toe hy Cope ’n pos aanbied

Die DA in George het gister vir ’n verrassing gesorg toe dit bekend geword het dat hy waarskynlik ’n veelparty-regering in die stadsraad gaan vorm.

Ofskoon dié politieke party ’n volstrekte meerderheid in die raad het, gaan hy waarskynlik van vandag af saam met Cope werk.

Die DA het 25 van die 49 setels en Cope 1. Die ANC het 19 setels; die ACDP 1; PBI 1; ICOSA 1 en die GOBF ook 1.

Die DA het gistermiddag in ’n kort verklaring die name bekend gemaak van sy lede wat in die burgemeesterskomitee onder die burgemeester, mnr. Charles Standers, gaan dien.

 Luidens die verklaring word ’n pos in die komitee óók vir ’n Cope-lid aangebied. Cope moet vanoggend die DA laat weet of hy belangstel. As Cope die pos aanvaar, sal dit deur mnr. Wilbur Harris beklee word.

Die nuwe burgemeesterskomiteelede met hul portefeuljes sal vanoggend op die eerste vergadering van die nuwe raad formeel bekend gemaak word. Die vergadering begin om 10:00 in die stadsaal.

Die Burger het gistermiddag betroubaar verneem dat mnr. Daniel Maritz die nuwe onderburgemeester is. Me. Mercia Draghoender, wat voorheen die eerste vrou was wat die burgemeesterspos in­ George beklee het, is die nuwe speaker.

Mnr. Bevin Fortuin, die oud-Springbokrugbyspeler, is ook in die burgemeesterskomitee. Hy is eers onlangs tot die raad verkies.

Luidens die DA se verklaring is die ander lede van die burgemeesterskomitee mnre. Jurie Bezuidenhout, Johan Stander, Flip de Swardt, Isaya Stemela, Lionel Esau, Leon van Wyk en mee. Jacoba Muller en Iona Kritzinger. Stemela, Stander en Van Wyk is ook eers onlangs tot die raad verkies.

In die verklaring sê burgemeester Standers die DA glo die nuwe burgemeesterskomitee is ’n bekwame span met die nodige ervaring, kennis en kundigheid om die munisipaliteit reg te bestuur. Hy het persoonlike onderhoude met elke raadslid gevoer en is gelukkig dat hy die sterkste span moontlik saamgestel het deurdat daar na elkeen se kennis en vaardighede gekyk is. Die DA-koukus het Saterdag sy die eerste beplanningsessie gehad.

Standers het by navraag gesê die DA wil nouer saamwerk met ander partye wat sy visie deel.

Harris het gesê onderhandelinge vind op nasionale vlak plaas tussen die leiers van die onderskeie partye. Hy sal vandag ná afloop van die raadsvergadering ’n verklaring uitreik.

Share Button

Leave a Reply