Brandhouse Liga op ‘n Mespunt

Die vierde rondte van die Brandhouse Rolballiga, wat verlede week by die Outeniqua Rolbalklub plaasgevind het, is deur puik rolbal gekenmerk. Soos gewoonlik was daar ook ‘n paar spanne wat aangenaam verras het en in die proses hul aanspraak op die Brandhouse titel versterk het.

Nels Meubels, ‘n vorige Brandhouse kampioen, het sy aanspraak op nog ‘n Brandhouse kroon versterk toe hulle met 12 – 7 teen nog ‘n voormalige kampioen, die Vintage Rollers, gesëevier het. Met hierdie oorwinning het Nels Meubels verseker dat hulle nie net hul top posisie (49 wedstrydpunte) op die punteleer behou nie, maar ook met die onderskeiding as enigste onoorwonne span in die kompetisie kan spog. Vir die Vintage Rollers was hierdie nederlaag ‘n gevoelige slag deurdat hulle vanaf ‘n algehele tweede na sewende plek op die punteleer teruggesak het.

Werner Fourie Oogkundiges het hul derde agtereenvolgende oorwinning behaal met ‘n skitter oorwinning van 23 – 10 teen die ABSA Privateers en welverdiend in die tweede posisie (44 punte) ingeskuif terwyl die Forgotten Ones, danksy ‘n oorwinning van 11 – 8 teen Die Goons, tans derde geplaas is op 41 wedstrydpunte.

Beide Digifusion en die Abacus E-Lemonators het hul eerste oorwinnings behaal. Secunda Sales moes met 5 – 15 die knie teen Digifusion buig terwyl die Abacus E-Lemonators in ‘n spannende wedstryd met 12 – 8 teen Burger en Genote gesëevier het.

Groot afwagting heers vir die vyfde en voorlaaste rondte van die toernooi wat vanaand om 18h00 by die Outeniqua Rolbalklub plaasvind. Die stryd tussen die twee topspanne, Nels Meubels en Werner Fourie Oogkundiges, word as ‘n finaal in die kleine beskou en lok ongekende belangstelling. In die stryd van die borge sal Brandhouse vir M Sec Sekuriteit die stryd aansê. In nog ‘n bepalende wedstryd kom die Forgotten Ones (3de geplaas) teen die span van Fiat Alfa (4de geplaas) te staan.

In die grootste oorwinning van die aand het M Sec Sekuriteit vir Getting There met 22 – 3 verslaan.

CA Team se Lead
Dries Fourie van die Vintage Rollers ontvang sy prys van Brandhouse se Marius Esterhuizen
Share Button

Leave a Reply