Rolbalnuus: Brandhouse Liga verras vroeg

‘n Aand vol verrassings! Dit is hoe die tweede rondte van die huidige Brandhouse Aandliga vir sosiale rolbalspanne, wat verlede week by die Outeniqua Rolbalklub plaasgevind het, onthou sal word. Alhoewel ‘n feestelike atmosfeer in tipies Brandhouse tradisie geheers het, was kompetisie straf en het verskeie wedstryde rolbal van hoogstaande gehalte opgelewer. 

Verskeie spanne het teen alle verwagting in vir verrassende resultate gesorg. Goussard Prokureurs, Kirsten en Tulleken Vervoer, Buitendag Rall en die Houtkewers verdien spesiale vermelding.  In slegs hul eerste Brandhouse toernooi het Goussard Prokureurs  met 13- 5 teen FNB gesëevier terwyl Kirsten en Tulleken, wat in die vorige Brandhouse liga met die laaste plek tevrede moes wees, hul tweede agtereenvolgende  oorwinning behaal het. Nadat hulle in die eerste rondte naelskraaps met 9 – 8 teen Digifusion gewen het, was dit dié keer die Greenies wat met 10 – 14 die knie moes buig. In die proses het Kirsten en Tulleken na die sewende algehele posisie opgeskuif. 

Dit was egter Buitendag Rall wat vir die grootste sprong op die punteleer gesorg het. Met hul oorwinning van 17 – 4 teen Lynn Schroeder BMW het hulle nie net hul onoorwonne status behou nie, maar ook van die 22ste na die elfde algehele posisie opgeskuif. Die Houtkewers, wat in die eerste rondte met 4 – 25 deur die ABSA Privateers verneder is, was hierdie keer met – 16 – 9 aan die wenkant teen die Abacus E-Lemonators. 

Dit was dan ook die einste ABSA Privateers wat hierdie keer met ‘n nederlaag van 5 – 15 teen die Vintage Rollers tevrede moes wees. Bo en behalwe die Vintage Rollers, het nog ‘n vorige Brandhouse kampioen in Nels Meubels ook sy aanslag op nog ‘n Brandhouse titel  met ‘n oortuigende oorwinning van 22 – 3 teen Aurecon begin. 

Die Forgotten Ones beklee tans die eerste posisie op die algehele punteleer nadat hulle in ‘n mededingende wedstryd ‘n agterstand van elf punte uitgewis het om eindelik met 15 – 11 as die oorwinnars teen DTM Nissan uit die stryd te tree.  Die Vintage Rollers is tweede geplaas met Nels Meubels derde en die CA Tean in die vierde plek. 

Die derde rondte van hierdie gewilde toernooi vind op Donderdag, 5 Mei, by die Outeniqua Rolbalklub in Airway Road, Heatherpark plaas. Spel begin om 18h00 en almal is welkom om in die besonderse Brandhouse atmosfeer te kom deel.

DTM Nissan  beklee tans die 14de algehele posisie

 

Goussard Prokureurs beklee tans die sesde algehele plek

 

Nienke Barnard ontvang haar Brandhouse prys van Marius Esterhuizen

 

Antoinette Grobler van Burger en Genote ontvang ook haar prys van Brandhouse

Share Button

Leave a Reply