George ‘gaan ekonomies ly’ noudat hy sewes kwyt is

EUGENE GUNNING

George – Gemeenskapsleiers en belanghebbendes in dié dorp het gister met groot teleurstelling gereageer op die nuus dat die Internasionale Rugbyraad (IRR) se Sewestoernooi vir die dorp verlore is. Hulle het voorspel die dorp gaan ekonomies ly en dat rugbyontwikkeling in die streek nadelig geraak sal word.

George het die toernooi die laaste jare suksesvol aangebied.

Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) het gister bekend gemaak die Suid-Afrikaanse deel van die toernooi sal die volgende vier jaar in Port Elizabeth gehou word.

Mnr. Hennie Baartman, president van die SWD-rugbyunie, het gesê dit is ’n unieke geleentheid wat George ontneem is.

Die toernooi het George van internasionale blootstelling verseker. “Ons rugbygemeenskap in die Suid-Kaap het die toernooi so nodig.”

Mnr. Lionel Esau, George se waarnemende burgemeester, het gesê dié dorp het die Sewes in Suid-Afrika gevestig. “George gaan ekonomies onder dié besluit ly.”

Mnr. Imel Rautenbach, president van die George-sakekamer, het gesê die dorp se bod was nie swak nie. “Port Elizabeth het beter geriewe en ’n groter begroting.

“George het nie net ten tyde van die toernooi voordeel daaruit getrek nie, maar ook op lang termyn.”

Rautenbach het gesê daar is reeds begin met inisiatiewe op streekvlak om soortgelyke geleenthede na die streek te probeer lok.

Mnr. Petrus Grobler, VF+- stadsraadslid en voormalige burgemeesterskomiteelid vir sport, het gesê Saru het George te na gekom. “Ons het elke jaar aan Saru se nuwe vereistes voldoen. Nou keer hulle ons die rug toe.”)Nog ’n berig op bl.20.

– Die Burger

Share Button

Leave a Reply