Ai, Braam, Dok Craven sou in sy graf omdraai

KAAPSTAD – Met ’n kamera wat aan sy voorkop vasgemaak is en ’n gewese Stormers- en WP-losskakel wat vir hom wys hoe die wind in die Kaap waai, kan die Stormers bitterbek wees oor die Kaapse “spioene” van die Western Force.

Maar Dok Danie Craven sou seker in sy graf omdraai as hy moet weet dat die skopkamera van die Stormers se teenstanders nogal deur Dok se alma mater, die Universiteit van Stellenbosch, ontwikkel is!

Dit skeel James O’Connor, veelsydige agterspeler van die Western Force, min vir wie sy skopmentor gespeel het en of die Maties sy geheime wapen ontwerp het. Al wat hy wil doen, is om die Stormers môre op Nuweland te bêre.

Gisteroggend het O’Connor ná die Force se oefensessie by Hamiltons in Seepunt skoppe met ’n kamera op sy voorkop geoefen.

“Dit was vandag die eerste keer dat ek dit gebruik het. Dit gaan oor visuele oefening wat met die skopwerk inskakel.”

En dis waar Braam van Straaten, gewese Stormers-losskakel, in die prentjie kom.

Volgens O’Connor geskied die meeste van sy kontak met Van Straaten aanlyn.

“Ons laai die beeldmateriaal van my skopwerk daarop en hy analiseer dit en gee terugvoer. Daar is ook persoonlike kontak elke keer as ek in Suid-Afrika is.

“Hy het vandeesweek van ­George gery om ons te kom help en ons is baie dankbaar,” het O’Connor gesê.

O’Connor het in die Superrugbyreeks al met 20 van sy 26 skoppe pale toe geslaag (77%) en sy regstreekse teenstander by die Stormers, Peter Grant, met 21 uit 27 (78%). Dis egter O’Connor se vermoë om met iets briljants vorendag te kom eerder as sy stelskopwerk waaroor die Stormers bekommerd sal wees.

Dié begaafde jong speler word vanjaar op losskakel ingespan, maar kan ook heelagter, vleuel of senter speel.

Volgens die Force se mediawoordvoerder, Mark White, is die kameratjies waarmee hy sy skoppe geoefen het die produk van navorsers by die Universiteit van Stellenbosch. Die kameras help om sy voet-oog-koördinasie te monitor en verbeter.

Daar is ’n reguit kamera vir sy ooglyn en dan ’n kamera wat afwaarts na sy voete wys – dus kan hulle sien wat sy voete doen terwyl hy in ’n sekere rigting kyk.

– Die Burger

Share Button

Leave a Reply